Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die tariefverhogings in die nuwe begroting vir Matlosana Munisipaliteit plaas onnodige druk op inwoners.
Volgens rdl Gerhard Strydom van die DA is die munisipaliteit reeds onder die hoogste in die land wat eiendomsbelasting betref. “Die verhogings is onaanvaarbaar aangesien inwoners hier reeds meer betaal, terwyl dienslewering misluk.’’
Hy het gesê dit is die rede waarom die DA teen die begroting in verlede week se raadsvergadering gestem het. “Die verhoging in dienstariewe wissel van water 4,8%, elektrisiteit 12%, sanitasie 4,4%, tot eiendomsbelasting 6%, sal ’n aansienlike las op gesinne en kleinsakeondernemings plaas, waarvan baie reeds sukkel in ’n stagnerende ekonomie.’’
Die nuwe waardasies tree op 1 Julie in werking. Die verhoging in eiendomsbelasting sal aansienlik hoër wees afhangende van die persentasie verhoging in die waardasie van ‘n eiendom.
Strydom het bygevoeg dat die verhogings groei in die ekonomie verder sal smoor, beleggings afskrik en armoede vererger. “Wat ons aanskou is ‘n belediging vir die lewensbestaan van gewone burgers. Daar word van inwoners verwag om meer te betaal, maar minder terug te ontvang. Dit is onbekostigbaar en onregverdig.’’
Hy het ook kommer uitgespreek oor die integriteit van die munisipale administrasie en leierskap.
“Talle bewerings van en ondersoeke dui op diepgewortelde korrupsie, wanbestuur van openbare fondse en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid. Ons inwoners se swaarverdiende geld wat aan hierdie administrasie toevertrou is, word misbruik terwyl infrastruktuur verkrummel en dienste agteruitgaan.’’