Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Oud-raadslid van die Matlosana Munisipaliteit is in Desember aan kanker oorlede.
Tonie Meiring is op 18 Desember by sy huis in Kwazulu Natal dood. Hy was 87 jaar oud. Sy vrou, Corné Rautenbach was aan sy sy. Volgens haar het hy die laaste vyf maande weggekwyn nadat kanker by hom gediagnoseer is. “Tog het hy die siekte met waardigheid en ‘n moedigheid baklei tot die laaste, maar hy kon net nie meer nie.’’
Tonie was bekend as ‘n vuurvreter in die stadsraad en hy het gereeld bydraes tot Klerksdorp Rekord se briewekolom gelewer.
Hy was ‘n lid van Irasa (Independent Ratepayers Association of South Africa) en is na sy 80ste verjaardag as onafhanklike kandidaat as raadslid ingestem om op die stadsraad te dien. Hy het ook op ‘n stadium in die voorsitterstoel van Klerksdorp se AfriForum-tak gesit.
Hy het in 2021 na KZN verhuis nadat hy in 2020 ‘n hartoperasie ondergaan het en besluit het “om dit rustiger te vat’’. Sy nuwe liefde, Corné, het daar vir hom gewag. Sy het aan Klerksdorp Rekord gesê sy is dankbaar vir die tyd wat hul saam spandeer het. “Al die lag, gesels en stories wat hy vertel het. Ek mis hom verskriklik baie en is dankbaar vir die memories.’’
Hy word beskryf as ‘n liefdevolle man, toegewyde pa, oupa en oupagrootjie. Respek, lojaliteit, regverdigheid en integriteit is woorde wat Tonie baie waarde aan geheg het.
Tonie is na ‘n privaat seremonie veras. Hy word ook oorleef deur sy drie dogters, kleinkinders en agterkleinkinders.










