Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die dood van ‘n Klerksdorpse motorfietsryer verlede week tussen Potch en Parys het weer ou wonde oopgekrap vir die ma van ‘n ander biker wat twee jaar gelede in ‘n ongeluk dood is.
Toe was die Biker-gemeenskap ook in rou toe Boela Butler dood is. Die botsing teen ‘n bakkie op 30 September 2023 het regoor Sundowners Pub in Buffelsdoornweg gebeur. Hy sou nou 27 jaar oud gewees het.
Sy ma, Ansa Williams, sal die dag nooit vergeet nie en sê sy kan nie aanvaar wat gebeur het nie. Wat dit vir haar erger maak, is dat sy die bestuurder en die voertuig wat saam met Boela in die botsing was, gereeld sien.
Sy huil as sy vertel dat sy die bakkie orals sien wat voor haar seun ingedraai het. “Die man ry rond en dit lyk nie of dit hom pla nie. Dis asof hy dink niks het gebeur nie. Ek kook as ek die bakkie sien,” sê sy.
Sy onthou die dag asof dit gister was. Die botsing het net na 02:00 op die Saterdagoggend gebeur en sy het om 02:30 die tyding gekry. Sy onthou hoe sy na die toneel gehaas het en vir Boela geskree het dat hy moet wakker word. Sy baklei vir geregtigheid en het ‘n prokureur gaan sien om haar te help. Volgens haar help dit nie om op die polisie staat te maak nie, want dit is nou al twee jaar sonder enige uitsluitsel.
Klerksdorp Rekord het met haar prokureur gepraat en Lenro Mostert is oortuig dat aksie nou geneem sal word. Volgens hom het die saak gesloer, maar hy het met die aanklaer gepraat en behoort die saak voor die einde van die jaar in die hof te wees.
“Dit is strafbare manslag en die man moet boet. Ons het al sy besonderhede,” sê Mostert.
Klerksdorp Rekord het ook met die polisie gepraat. Hulle het nie betyds op Klerksdorp Rekord se vrae gereageer nie.
“Ek weet ek sal moet vrede maak met die dood, want Boela kom nie terug nie. Ek wil net sien die man wat voor hom ingery het kan nie net aangaan met sy lewe asof niks gebeur het nie.”