Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die polisie ondersoek ‘n saak van roekeloos- en nalatige bestuur nadat ‘n motoris in ‘n groep voetgangers ingejaag het by die kafee in Dawkinsville. Die voorval het vroegaand op Maandagaand 22 September gebeur.
Een voetganger is beseer en met ‘n ambulans hospitaal toe geneem. ‘n Ooggetuie het gesê die bestuurder van die wit Mercedes Benz is ‘n bekende inwoner van Dawkinsville wat gereeld onder die invloed van drank bestuur.
“Hy spin altyd hier op en af in die straat. Ons het geweet dit sal net ‘n kwessie van tyd wees voor iets ernstig gaan gebeur.’’
Klerksdorp Rekord het beeldmateriaal van die voorval gesien waar dit lyk of die motor op die voetgangers afpyl. Die motor jaag oor ‘n sypaadjie, ry agteruit en pyl dan weer op die mense af. Dit is dan wanneer een van die voetgangers raakgery word.
Dit is nie seker of die bestuurder van die voertuig, ‘n 40-jarige man wie se identiteit aan Klerksdorp Rekord bekend is, se bloed vir alkohol getoets is nie. Niemand is in hegtenis geneem nie.