Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Tshepong Hospitaal in die spervuur

25 September 2025

Deur Danie Jacobs

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Inwoner van Lichtenburg het geen goeie woorde vir Tshepong hospitaal, sy personeellede en dokters nie.

Volgens Antoinette Janse van Vuuren is dit chaos in die hospitaal en wat met haar ma gebeur het, is “blatante moord’’. 

Sy dreig die hospitaal met regsaksie na haar ma op 2 September in die vroeë oggendure “bloot gelos is om dood te gaan, omring deur ander pasiënte en sonder enige waardigheid gesterf het”. 

Ronel de Beer (64) se roudiens het op Dinsdag 9 September op Lichtenburg plaasgevind. Die familie is in rou gedompel en hulle is oortuig die uiterste swak diens en gebrekkige behandeling wat sy by die hospitaal ontvang het, het haar dood veroorsaak.

Klerksdorp Rekord het na die roudiens met Antoinette gepraat en sy is woedend, teleurgesteld en haar bloed kook as sy oor Tshepong praat.

Sy vertel sy het haar ma Tshepong toe gebring met moontlike bloedklonte in haar bene. Sy het baie moeilik geloop en was in ‘n rystoel. “My ma was geskeduleer vir ‘n skandering en die personeel het bloot van haar vergeet. Sy het nooit die prosedure ondergaan nie, want hulle was glo te besig, en hulle het haar ontslaan. Ons is toe huis toe met haar.” 

Ronel was in erge pyn en het erg verswak. Antoinette het haar ma toe na Potchefstroom Hospitaal geneem, waar sy volgens haar goeie behandeling ontvang het. “Hulle het alles vir haar gedoen wat hulle kon, maar sy is toe terug na Tshepong oorgeplaas om ‘n vaskulêre kenner te sien. Die dokters in Potchefstroom het beaam dat sy bloedklonte in haar bene het, en baie siek is.”

Ronel is toe terug Tshepong toe, en het nie lewend daar uitgekom nie. Volgens Antoinette het alles skeefgeloop... 

“Hulle het geen kennis gedra van haar oorplasing nie, en glad nie na haar gekyk nie. Die sekuriteit het ons verwyder toe ons wou weet wat aangaan. Ons was ure met haar in Ongevalle toe ‘n dokter vir ons kom sê hulle kan niks vir haar doen nie. Hulle het haar net laat sterf tussen ander mense. Ons het gevra dat hulle haar ten minste skei van die ander pasiënte en dit is glo nie toelaatbaar nie. 

“Ons het gesien hoe haar hartklop stadiger word en moes toekyk hoe sy sterf. En dit het gebeur tussen ander pasiënte in Ongevalle, waar almal kon sien hoe sy sterf. Dit steek soos ‘n dolk deur my hart.”

Tebogo Lekgwebone, woordvoerder van die Departement Gesondheid, het by navraag geantwoord dat die pasiënt (Ronel) glo ‘n MRI skandering geweier het, en daarom ontslaan is. Haar familie ontken dit ten sterkste. 

Volgens Lekgwebone het dokters en verpleegkundiges Ronel gesien na sy van Potchefstroom oorgeplaas is, en was haar prognose baie ernstig. “Sy het gesterf met haar familie by haar,” het hy afgesluit.

Hy het nie kommentaar gelewer oor hoe personeellede hulle hanteer het nie of die gebrekkige kommunikasie en behandeling waaroor Antoinette ook kla nie.