Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die ontvoerders wat ‘n pensioenaris vermoor en sy lyk in die Schoonspruit gegooi het, het vandeesweek weer hier in die hof verskyn.
Die ondersoek na die ontvoering van Hasani Daniel Maluleka (62) uit sy huis in ‘n veiligheidskompleks in Wilkoppies, het tragies geëindig toe sy liggaam op 21 April in die spruit naby Kanana gevind is.
Speurders het sedert sy verdwyning op 10 April onverpoosd gesoek en talle leidrade opgevolg wat hulle van Jouberton tot Sebokeng tot Evaton aan die Oos Rand gelei het.
Brig Sabatha Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het bevestig dat vyf mense in hegtenis geneem is. Klerksdorp Rekord het verneem dat verklarings wat tydens ondervraging afgelê is, die polisie gelei het na die Schoonspruit waar duikers sy liggaam in die vloedwater ontdek het. Die oorledene se hande was agter sy rug geboei.
Volgens die polisie het verskeie polisie-eenhede ‘n rol gespeel in die ondersoek om uiteindelik die ontvoerders op te spoor. Die inhegtenisneming van Julia Kolobi (47) op 13 April in Jouberton het die deurslag gegee in die ondersoek en die polisie gelei na Mcdonald Tsolo (39), Bongani Rampai (43), Thabo Motlatsi (50) en Kagiso Wageng (37).
Kolobi se motor is op die toneel van die ontvoering opgemerk. Die VW Tiguan en ‘n VW Golf wat glo in die misdaad gebruik is, is deur die polisie op beslag gelê. Dit is nie seker wat haar verbintenis met die oorledene is nie.
Volgens Mokwabone het die oorledene se voormalige vriendin alarm gemaak nadat sy verdagte transaksies op sy bankrekening gesien het, en hom nie in die hande kon kry nie. “Ons kon toe vasstel dat sy Toyota Hilux en ‘n Mercedes Benz ook weg is en dat die huis geplunder is. ‘n Redelike bedrag geld is ook uit sy bankrekening onttrek.’’
Sover Klerksdorp Rekord kon vasstel, het Maluleka sakebelange in die Noordkaap gehad. Hy het vyf maande gelede afgetree en hom in Klerksdorp gevestig.
Die polisie het die Benz in Evaton teruggekry, asook karsleutels, ‘n skootrekenaar en ‘n 9mm pistool. Die verdagtes het verlede week in die hof verskyn en is van moord, ontvoering en roof met verswarende omstandighede aangekla. Die saak sou weer op Woensdag 30 April voorkom vir regshulp en ‘n borgaansoek. Teen druktyd was dit nog nie afgehandel nie.