Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Sindikaat wat vermoedelik vanuit die munisipaliteit bedryf word en sakelui intimideer om groot bedrae geld aan hulle oor te betaal om te verhoed dat hulle elektrisiteit afgesit word, word ondersoek.
Rdl Hendrik Jordaan van die Vryheidsfront Plus het op Dinsdag 19 November gesê dat hy geëis het dat die munisipale bestuurder die “munisipale rekening-afdreigsindikaat” wat in die munisipaliteit bedrywig is, by die polisie verkla. “Sy het onderneem om dit te doen en gesê die munisipaliteit sal hul samewerking gee om die skuldiges aan die kaak te stel.’’
Die VF Plus het vandeesweek met Lesego Seametso vergader nadat hulle verskeie klagtes van sakelui in die Kosh-gebied ontvang het dat dié sindikaat hulle afdreig om groot bedrae in ʼn rekening te betaal om te voorkom dat hul krag afgesny word.
“Uit die inligting wat die VF Plus ontvang het, blyk dit dat die skema in samewerking met munisipale amptenare met toegang tot die munisipale rekeningstelsel gedoen word. Die bedrae wat geëis word, stem onder meer presies ooreen met die sake-eienaars se uitstaande munisipale skuld. Sindikaatlede weet ook presies aan watter krag-aansluitingspunte die geteikende ondernemings gekoppel is.
“Sake-eienaars word ook in stemboodskappe met fisieke geweld of skade aan hul eiendom gedreig indien hulle weier om die inbetalings na ‘n rekening in die naam van “ Deps Creditors Control Revenue” te doen,’’ het rdl Jordaan gesê.
Hy het ‘n beroep gedoen op alle inwoners om waaksaam te wees en te verseker dat hulle hul munisipale rekeninge slegs by die munisipaliteit vereffen op die amptelike metodes.










