Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Januarie het ‘n stewige oes Afrikaanse boeke deur Jonathan Ball Uitgewers gelewer.
* Drie misdade in ‘n knoop is die derde titel in ’n reeks van vyf ligte spanningsverhale wat tussen 1998 en 2003 deur die gewilde skrywer Eleanor Baker onder die skuilnaam Alex Muller geskryf is. Hierdie reeks is net die regte medisyne vir alle leunstoel-kriminoloë wat hou van ’n skerpsinnige whodunnit wat met ’n tikkie romanse en humor gepaardgaan.
* Dalk is jy lus vir ‘n vermaaklike roman deur die blitsverkoperskrywer Riaan Grobler. Die Avonture van Helga Roets is ‘n storie oor die proses van ouer word, maar ook oor liefde en aanvaarding, met ‘n deeglike skeut humor. Helga is dalk aan die verkeerde kant van 80, maar jy kan haar steeds deur ’n ring trek. Sy woon by Silwerhare Aftreeoord in Pretoria, is onafhanklik met haar eie motor maar o wee, dan word sy met makulêre degenerasie in albei haar oë diagnoseer. En twee begrafnisse en ’n troue lê voor in die Paarl. Ten spyte van haar kinders se teenkanting, glip Helga suutjies uit by die aftreeoord, bagasie gepak, reg om haar reisavontuur te begin. Maar wie wag onder die lamppaal? Niemand anders nie as Stefaans de Wet, ietwat orig en van plan om haar op haar tog te vergesel. Hier wag ‘n lekker avontuur.
* Die veelbekroonde skrywer Francois Bloemhof het die gewilde televisiereeks, Een keer om die son, verwerk tot ‘n roman. Die tweede seisoen van die reeks het pas op kykNet begin - weer met die Van Wyk-gesien se lief en leed as fokus. As jy iemand verloor, gaan die lewe voort. Jý moet ook. Dit is wat die Van Wyks leer met een van hulle se dood. Op ’n manier moet hulle sin maak uit wat gebeur het - en uit wat volg.
* Vir liefhebbers van historiese romans is Christiaan Bakkes se verhaal, Soetdoring in die ruigtes, die regte leesstof. Dit is 1916 en vertel die storie van Caleb Kelly, ‘n jong veteraan van die Eerste Wêreldoorlog, wat getraumatiseerd en geskend terugkeer na sy familieplaas in die Oos-Kaap. Wanneer olifante groot skade aanrig, is hy gereed om hulle voor die voet te skiet. Maar dan gebeur iets wat maak dat hy sy woede verruil vir ‘n diepe vriendskap met ‘n trop wat bedags tussen die ruigtes op die plaas skuil. Soetdoring in die ruigtes is meer as ‘n historiese roman - dit is ‘n meditasie oor trauma en genesing, oor die mensdom se vermoë tot sowel vernietiging as bewaring. Deur feit met fiksie te verweef neem Christiaan Bakkes lesers op ‘n reis vanaf 1916 tot die stigting van die Addo-olifantpark in 1931.










