Jaco Jacobs se bekende drie kinderboeke Duistermaan, Pretpark en Harlekyn het almal die jaar nuwe omslae gekry! Pretpark en Harlekyn spog nou op
die rak langs Duistermaan wat vroeër die jaar gepubliseer is. In Pretpark is Johan en Anton baie opgewonde toe daar ’n pretpark buite die dorp opgeslaan word! Maar vandat die mislike Madame Zelda hulle op die verhoog gehipnotiseer het, voel Johan, Anton en Karin...anders.
In Harlekyn het Werner een reël na sy skrikwekkende ervaring by die sirkus: Bly weg van narre! Maar wanneer sy suster vir Billy huis toe bring - ’n antieke harlekynpop met ’n meganiese lag en ’n permanente glimlag, word Werner se ergste nagmerrie waar.
Jaco Jacobs het eintlik geen bekendstelling nodig nie.
Hy is die skrywer van meer as 290 boeke vir kinders en meer as ’n miljoen kopieë van sy boeke is reeds verkoop. Sy werk is al 46 keer met pryse bekroon en is in Engels, Nederlands, Italiaans en Portugees vertaal.
Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogters, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang.
Luan Serfontein is ‘n illustreerder van Kaapstad en was verantwoordelik vir die nuwe voorblaaie. Hy is ook betrokke by die kinderprogram, Lollos.










