Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Hierdie jaar bring Aardklop hulde aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters. Die bekroonde dramaturg Athol Fugard is in Maart vanjaar in die ouderdom van 92 jaar oorlede.
Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim.
Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op. Hierdie ko-produksie geskied in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Belofte van vere bring op sy beurt hulde aan Breyten Breytenbach in ’n spesiale program met opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings.
Ook aan die woord, by wyse van spreke, is sy dogter, Daphnée Breytenbach, in gesprek met haar pa - aan die hand van haar voorlesing vroeër vanjaar by haar pa se huldigingsbyeenkoms.
Van SA se voorste kunstenaars (onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen en Laurinda Hofmeyr) nooi die gehoor saam op reis om die beste te beleef van Breyten - die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”.
Die artistieke regisseur is Anna Davel en die bekroonde Phillip Rademeyer behartig die spelleiding. Verwelkings-lied is op sy beurt die laaste toneelstuk uit Breytenbach se pen. Dit is kort voor sy dood verlede jaar voltooi, en opgedra aan onder andere Antoinette Kellermann, wat die rol van ’n ouer verhoogaktrise vertolk. Saam met haar is Dawid Minnaar, wat die rol van Breyten vertolk.
Ouer teatergangers sal onthou dat Minnaar ook in die hoofrol van Breyten se heel eerste toneelstuk, Boklied, te sien was, wat in 1998 by die KKNK debuteer het.
Die regie is behartig deur Marí Borstlap, en dit is ’n ko-produksie tussen Momentum Aardklop en die Suid-oosterfees.
Dit het in April in die Kunstekaap-teater in Kaapstad debuteer, tot groot lof van kritici.
Die Aardklop-program is beskikbaar op die fees se webwerf.