Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Die tyd het gevlieg en Aardklop het aangebreek. Die fees het op Dinsdag 7 Oktober afgeskop en daar sal tot Sondag 12 Oktober geklop word. Behalwe vir die groot kuns- en stalletjie-mark op die feesterrein bied Aardklop ‘n bedrywige kunste program met juwele vir almal - van kinderteater, komedie en musiek tot ernstige teater en uitstaande beeldende kuns. Koop kaartjies hiervoor by Webtickets.
Die fees bring vanjaar hulde aan van Suid-Afrika se grootste dramaturge en digters:
- Die bekroonde dramaturg Athol Fugard is in Maart vanjaar in die ouderdom van 92 jaar oorlede. Sy ikoniese Boesman en Lena is in Afrikaans vertaal deur Vinette Ebrahim. Dit is ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige, en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Christo Davids as regisseur volg sy veelbekroonde Laaitie mettie biscuits met hierdie debuutproduksie op.
- Belofte van vere bring hulde aan Breyten Breytenbach in ’n spesiale program met opnames van sy eie voorlesings, ’n keur van sy gewilde gedigte, sowel as besondere toonsettings. Van SA se voorste kunstenaars (onder andere Rolanda Marais, Ilse Klink, Schalk Joubert, David Klassen en Laurinda Hofmeyr) nooi die gehoor saam op reis om die beste te beleef van Breyten - die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif”.
- Verwelkingslied is op sy beurt die laaste toneelstuk uit Breytenbach se pen. Dit is kort voor sy dood verlede jaar voltooi, en opgedra aan onder andere Antoinette Kellermann, wat die rol van ’n ouer verhoogaktrise vertolk. Saam met haar is Dawid Minnaar, wat die rol van Breyten vertolk.
- Van die ander hoogtepunte is Nataniël en Charl du Plessis wat te sien is in NATANIËL + CHARL: 25 en Charl du Plessis se eie Surf & Turf is ook ‘n hoogtepunt.
- Die feesterreingangers kan uitsien na onder andere Elandré, Die Heuwels Fantasties, Bernice West, Prime Circle en Die Piesangskille. Ricus Nel kom deel ’n hardekool, so laat die feesvure hoog brand.
Dit is slegs enkele hoogtepunte. Gaan na www.aardklop.co.za om ‘n dagprogram te kry, asook die feesprogram.
Die N12 neem jou direk na Potchefstroom en die fees gaan beslis kook.