Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - NG Welsyn se jaarlikse Vrouedag oggendtee lê voor die deur en gasvroue is druk besig om kaartjies vir die geselligheid te verkoop. Die tee vind plaas op 16 Augustus, 9:00 vir 9:30 by C’est La Belle in Vleistraat. Kaartjies is R280 per persoon wat ’n heerlike ligte ete insluit. Dit sal ook die eerste keer wees wat Liezel Pieters in
Klerksdorp optree. Sy is een van die grootste stemme in Afrikaans en opgewonde oor haar optrede by die oggendtee.
In Mei 2024 het sy die enkelsnit “Sterre” vrygestel. Sy het ook saamgewerk met Juanita du Plessis en JAN JAN JAN aan die Suid-Afrikaanse weergawe van “Africa,” wat in 2024 uitgereik is. Die uitreiking van haar debuutalbum, Sing Uit My Hart Uit, in 2017, staan vir haar uit as een van haar hoogtepunte en treffers soos Asemloos en Miljoene Druppels is op dié album ingesluit.
Sing Uit My Hart Uit is ook bekroon met ’n Ghoema-toekenning vir die Beste Kontemporêre Album deur ’n vroulike kunstenaar in 2018. Die musiekvideo vir haar treffer, Asemloos, het reeds 2 miljoen kyke op YouTube geniet terwyl Droë Riviere al 1,6 miljoen kere gekyk is.
“As kind het ek deelgeneem aan al wat ’n sang-kompetisie en revue was en ek is so dankbaar oor waar ek myself nou bevind met my sangloopbaan,” gesels sy. Liezel hou haar konserte energiek, met goue treffers uit die tagtiger- en negentigerjare. Haar vertolking van dié treffers is in die kol en herinner aan ’n Belinda Carlisle-optrede.
Vir kaartjies, skakel San-Marie Keyser of Lorinda Pretorius by 018 462 9887/8.