
Klerksdorp Midweek, Klerksdorp – Die stad se Toekafees vind die naweek plaas met heelwat vermaak uit toeka se dae wat oud en jonk sal besig hou. Die Triestsentrum bied die Toekafees op Saterdag 31 Mei op hul terrein aan en nooi Klerksdorpers om die fondsinsamelingsgeleentheid te ondersteun. Die Toekafees beloof om jou terug in tyd te neem. Verwag ossewaens, trek-osse, sien hoe melk gekarring word en hoe botter gemaak word, asook boerseep en vetkerse.
Neem deel aan jukskei en skyfskiet en kom beleef mampoerstook.
Brei en hekel word nog gedoen en veteraanmotors- en trekkers sal die prentjie afrond.
Kom eet pap-en-kaiings, afval, wildspastei, vetkoek, melkkos, skaapstertjies en soveel meer.
Die sentrum is op die h/v Elm- en Centrallaan geleë.
Toegang is R80 vir volwassenes en R40 vir kinders jonger as 12 jaar. Dit sal van 10:00 tot 17:00 duur.
Saterdagaand om 19:00 sal ‘n tradisionele ete bedien word. Dié kaartjies kos R200 elk.
Skakel 082 414 5598 om kaartjies te koop.