NOORDWESTER – MAREETSANE – Mareetsane VLU het kinders onlangs op ‘n ‘ruimtereis’ geneem – danksy Nicholas Wessels se insiggewende en interaktiewe aanbieding oor sterrekunde.
Met behulp van ‘n lig en ‘n aardbol het hy prakties gewys hoe ‘n jaar verbygaan en waarom ons seisoene soos somer en winter ervaar. Die rol van die pole en die ewenaar is beklemtoon om hierdie verskynsels beter te verstaan.
Nicholas het ook die kinders bekendgestel aan die planete in ons sonnestelsel en hul verskillende mane. As deel van die aktiwiteit moes die kinders self satelliete uitwys.
Nog ‘n hoogtepunt was toe die kinders geleer is hoe om die rigting van Suid te bepaal deur na die sterre te kyk. Die Gordel van Orion, Mars en die Melkweg is uitgewys, wat bygedra het tot die verwondering oor die naghemel.
Wat die sessie besonders gemaak het, was die interaktiewe aard daarvan: kinders en ouers het entoesiasties hul eie kennis en vrae oor die sterrestelsel gedeel, wat die leerervaring verder verryk het.
Ons hoop dat hierdie ‘ruimtereis’ kinders sal aanspoor om te bly reik na die sterre!