Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER – LICHTENBURG - Tydens ‘n glansdinee op Vrydagaand, 19 April by die NWK Opleidingsentrum, Lichtenburg is Kobus Beyers (39) as die Afri NW Jongboer 2024 aangekondig. 
Hy sal later in die jaar om die titel as Toyota SA/Agri SA se Jongboer van die Jaar deelneem. Agri NW-Jongboer van die Jaarkompetisie het in 2003 ontstaan en is in 2024 nog rotsvas gevestig en opspraakwekkend in die Noordwes Provinsie. 
Die deelnemers is besonder suksesvol, innoverend en entoesiasties oor boerdery, wat wys hoe gesond die gehalte is van jongboere in die landbousektor.

Agri NW se Jongboer-komitee vorm ‘n integrale deel van Agri NW se strukture en bied die geleentheid aan die jongboer van vandag om ‘n verskil te maak op gebiede wat daadwerklik bepalend kan wees vir elke boer en landgenote. 
Die 2024-finaliste in die Agri NW-Jongboer van die Jaarkompetisie wat in trotse samewerking met die hoofborg, Santam Landbou, aangebied word is:

• Kobus Beyers (Wenner):
Kobus (39) en sy vrou, Stephanie het drie kinders. Kobus het ‘n Nasionale Diploma in Diereproduksie aan die Tegnikon van Pretoria verwerf. Hy boer vir die afgelope agtien jaar op die plaas Doornpan in die Wolmaransstad-omgewing.  Hy boer aanvanklik eers saam met sy pa, oupa en oom in die onderneming Beyers en Beyers Trust.  Daarna, vanaf 2017, boer hy saam met sy pa en broer in ‘n ander onderneming, Al Cor Boerdery, waarna hy en sy broer die grond en maatskappye erf in 2021 na die afsterwe van sy pa. Intussen het hulle self nog grond bygekoop en huur lande en weiding by.
Hy boer saam met sy broer, Nelius in ʼn aandeelhouding-ooreenkoms van 50/50 persent. 
Kobus is verantwoordelik vir die bestuur van die veevertakking wat bestaan uit ʼn kommersiële vleisbees kudde en ʼn Dorper-skaapstoet.
Kobus se visie vir die boerdery is om doelgerig te streef en te werk  na ʼn volhoubare en winsgewende boerderybesigheid vir die nageslag.  Sy prioriteite vir die komende seisoen is om deeglik ingeligte besluite te neem rondom insette rakende die beplanning van gewasse vir wisselbou, aangesien die grondvog ʼn groot rol speel en om die skaap-stoetboerdery tot sy volle potensiaal te ontwikkel.
Kobus is ten spyte van die boerdery en familieverant-woordelikhede baie betrokke by verskeie boerderyinstansies en -organisasies. 
Dan is hy ook betrokke in die gemeenskap en die skool.
Hy is van mening dat boerdery een van die meer uitdagende beroepe is.  Deur te leer van voorgangers en ander boere, kan hulle goed toegeruste boere en leiers vir die toekoms word.

• Nicolas Olivier:
Nicolas (38) is getroud met Elrie en hulle het drie kinders.  Hy boer die afgelope twintig jaar voltyds in die Ventersdorp-omgewing op die plaas Oatlands.
Hy en sy vrou het ʼn aandeelhoudingboerdery-ooreenkoms van 50/50 persent elk. In die onderneming behartig Nicolas die uitvoerende besluite soos die beplanning, begroting, bemarking en organisering van die boerdery. Nicolas is derhalwe ook verantwoordelik vir die  bestuur en organisering van arbeiders asook die instandhouding en die opgradering van toerusting en infrastruktuur.
Nicolas se toekomsvisie is om die boerdery uit te brei en teen maksimale effektiwiteit te funksioneer. Tegnologie en inligting speel ‘n belangrike rol en hy maak soveel moontlik gebruik daarvan. Hy fokus daarop om sy arbeid so effektief moontlik te bestuur en om die nodige opleiding aan arbeiders te verskaf. Dit verseker volhoubare vooruitgang. Hyself is aktief betrokke en ‘n lid by verskeie boerdery-organisasies. 
Nicolas glo om suksesvol te kan boer, dat jy elke dag moet fokus en jou beste moet gee in alles wat jy doen. Om gemiddeld te wees is nie ʼn opsie vir hom nie. Landbou het gedrewe jongboere nodig wat betrokke is by georganiseerde landbou om ʼn verskil te maak.


• George Nell:
George (26) is enkellopend en boer die afgelope ses jaar voltyds in die Stella-omgewing op die plaas Mimmiesfontein. Hy verwerf sy B-Agric in Diere Produksie Bestuur aan die Universiteit van die Vrystaat in 2021.
Hy boer saam met sy pa in ʼn vennootskap en sy aandeelhouding is 30% van die boerdery. George behartig aspekte van die boerdery soos die beplanning, begroting, bemarking en organisering van die onderneming. George is ook verantwoordelik vir die  bestuur en organisering van arbeiders en die instandhouding en die opgradering van toerusting en infrastruktuur.
Sy toekomsvisie vir die boerdery is om uit te brei. Die beesboerdery moet ‘n stoetboerdery van uitstaande gehalte wees. Sy prioriteit vir die komende seisoen is om risiko’s te bestuur in die droogte, deur te sorg dat daar genoeg voerreserwes is om die kudde te dra, sonder om getalle drasties te verminder of sonder om speengewig in te boet. 
George is tans voorsitter van Agri Boereplaas en is ook die veiligheids-verteenwoordiger van die landbouvereniging. In sy gemeenskap is hy betrokke by verskeie projekte en behulpsaam by die jaarlikse “offroad rally” wat in Stella aangebied word.
Hy is oortuig daarvan dat landbou die hoeksteen is van die Suid-Afrikaanse ekonomie en nie daarsonder kan voortbestaan nie. Landbou dra ook grootliks by tot werkskepping. Jongboere lei  ʼn nuwe era in die landbou in wat groot  vooruitgang kan beteken deur die toepassing van moderne tegnologie en tegnieke in die boerdery.