Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER – LICHTENBURG – Luidens ‘n berig van Maroela Media het Eskom ’n hofbevel verkry wat dit toelaat om R40 miljard by verbruikers te verhaal nadat Nersa foute gemaak het in tarief- en inkomste-besluite tussen 2015 en 2021.
Die kragvoorsiener betwis nou ook Nersa se mees onlangse besluit en meen dit het tot ’n bykomende verlies van sowat R30 miljard gelei.

Indien Eskom suksesvol is met hierdie hofaansoek, kan verbruikers uiteindelik tot R90 miljard meer betaal, te midde van toenemende bekommernis oor die bekostigbaarheid van elektrisiteit.
Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het stilletjies in Mei vanjaar ʼn skikking aangegaan wat verbruikers benewens die reeds hemelhoë kragtariewe, nóg R40 miljard uit die sak gaan jaag. Dit volg ná Nersa ʼn rits foute gemaak het in verskeie besluite oor Eskom se inkomste en tariewe.
Die bedrag kan verder styg omdat Eskom ’n nuwe hofaansoek geloods het teen Nersa se jongste besluite oor die maatskappy se inkomste en tariewe vir die huidige en die volgende twee finansiële jare.
Dié hofaansoek is die jongste in ’n reeks hofsake teen Nersabesluite, wat byna almal in Eskom se guns beslis is. Die skikking in Mei, wat ’n bevel van die hof gemaak is, handel oor terugbetalings ná Eskom tussen 2015 en 2021 kragtariewe onderverhaal het. Dit volg na ’n aansoek deur Eskom by die Gautengse hooggeregshof om ook die besluit te hersien en tersyde te stel.
In Januarie vanjaar het Nersa aangekondig dat hy inkomste van R384,6 miljard vir Eskom vir die huidige finansiële jaar goedgekeur het. Dit verteenwoordig ʼn tariefverhoging van gemiddeld 12,74%, wat reeds op 1 April in werking getree het.
Dr Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, het gesê Suid-Afrikaners sal toenemend moet kies of hulle kos of elektrisiteit koop, want daar is nie geld vir albei nie. Selfs Suid-Afrika se middelklas sukkel om elektrisiteit te bekostig, het hy gesê.
Die VF+ het in reaksie op dié berig kommentaar gelewer en gesê dat Suid-Afrikaners toenemend gyselaar gehou word deur ’n monopolieverskaffer wat eens as wêreldklas gereken is, maar nou gebuk gaan onder swak bestuur, korrupsie, gebrek aan instandhouding en ’n salarismassa wat in geen verhouding tot dienslewering staan nie. 
“Hierdie strukture is besig om die ekonomie in ’n wurggreep te hou, en die las daarvan rus swaar op landbou, nywerhede én huishoudings.
“Daarby faal Nersa keer op keer in sy rol as onafhanklike regulator. Die foute in tarief- en inkomste-besluite wat nou tot hofskikkings lei, bewys dat hierdie instansie nie meer in die verbruiker of die publiek se belang dien nie. In plaas daarvan dat Eskom en Nersa verantwoordelikheid aanvaar vir hul wanbestuur, word die rekening telkens na die verbruiker gestuur.
“Die feit dat verbruikers nou gestraf word vir die verlaging in kragverbruik tydens ’n tydperk van beurtkrag, ekonomiese agter-uitgang, en ’n oorlewensgedrewe skuif na sonkrag, is onregverdig en onlogies. Die moontlikheid van toekomstige heffings op selfs eie opwekkingsvermoë, soos sonpanele, is niks anders as ’n desperate poging om Eskom se monopolie teen enige koste te beskerm nie.”