NOORDWESTER – SANNIESHOF - Die voortslepende rioolbesoedeling in Sannieshof is ‘n ernstige kwessie wat beduidende gevolge vir die gesondheid en omgewing het, as gevolg van ‘n disfunksionele en verouderde stelsel van septiese tenks en onvoldoende instandhouding deur die Departement van Water en Sanitasie in die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit.
Inwoners en besighede eis nou ‘n funksionele sanitasiestelsel om die septiese tenkstelsel te vervang en ‘n dringende ondersoek na die watergehalte.
Die afwesigheid van die Ngaka Modiri Molema Water- en Sanitasie-owerheid en die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, wat as die sanitasiediensverskaffer dien, is die kern van die rioolkwessie wat Sannieshof oorweldig. Die gemeenskap word verswelg deur rioolstortings wat eiendomme en huise oorstroom en septiese tenks is oorvol - en geen plan om die uiters noodsaaklike diens te lewer nie.
Rou, onbehandelde riool hou aansienlike gesondheids- en omgewingsrisiko’s in en besoedel grondwater in boorgate. Die onderdompeling in die direkte omgewing van koshuise kan ook lei tot die verspreiding van siektes soos cholera, disenterie en hepatitis. Voedsel- en groentetuine word ook besoedel deur besproeiing.
Die afvalwatersuiweringsaanleg wat in die waterloop van die Hartsrivier gebou is, is disfunksioneel sedert die voltooiing van die aanleg in 2003.
Verskeie boorgate wat grootmaatkapasiteit aan Agisanang, Pelhindaba en Sannieshof lewer, is in 2017 getoets en weens rioolbesoedeling nie geskik vir menslike gebruik gevind nie.
Privaatboorgate wat in 2009 in Sannieshof getoets is, is ook weens rioolbesoedeling nie geskik vir menslike gebruik verklaar nie.
Inwoners van Sannieshof verdien beter - gesondheid en waardigheid van mense kan nie agterweë gelaat word nie.