NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die Suid Afrikaanse Onderwysers Unie (SAOU) het op 25 November begin met deelname aan die 16 Dae van Aktivisme van Geweld teen vroue en kinders.
Hierdie inisiatief word deur die SAOU ondersteun met deelname aan die nasionale tema: "Letsema: Mans, Vroue, Seuns en Dogters wat saamwerk" om ‘n einde aan Geslagsgebaseerde Geweld (GBV) mee te bring. Letsema is ‘n Sesotho woord, wat verwys na mense wat saamkom om ‘n gemeenskaplike doelwit te bereik.
Die SAOU het oor die afgelope aantal jaar aktief deelgeneem aan prosesse om te verseker dat mans en vroue in die onderwyssektor gelyke besoldiging vir gelyke diens verdien. Die SAOU is steeds aktief aan die werk om te verseker dat daar nie diskriminasie op die gebied van die vergoeding binne die staatsdiens plaasvind nie.
"Geslagsgebaseerde geweld bly ‘n plaag in ons huise en gemeenskappe, selfs na jarelange aksies soos die 16 Dae van Aktivisme. In baie gevalle bly slagoffers in gewelddadige en toksiese verhoudings, omdat hulle nie genoegsame finansiële middele het om uit die verhouding te ontsnap nie," meen die SAOU.
Stats SA (2022) dui aan dat 21% van Suid-Afrikaanse vroue fisiese of seksuele geweld in verhoudings ervaar en dat 50% van vroue in gewelddadige verhoudings berig dat hulle een of ander vorm van finansiële misbruik ervaar.
Dit kom voor in gevalle waar vroue verhinder word om hulle werksposisie te verbeter tot waar ekonomiese aktiwiteite ingeperk word. Dit kan ook fokus op mikrobestuur van uitgawes of die opsetlike beskadiging van vroue se kredietstatus en die wegsteek van bates.
Een van die vorme van finansiële misbruik wat die meeste aangemeld word, is maandelikse onderhoud van kinders wat nie oorbetaal word nie.
Die SAOU doen daarom ‘n ernstige beroep op alle vroue en dogters om te verseker dat hulle finansieel geletterd is, weet waaroor die basiese bestuur van finansies handel en om stappe te neem om hulself genoegsaam te beskerm.
Die SAOU benadruk egter dat geweld teen vroue en kindes slegs beheer kan word as gemeenskappe saamwerk om die herhaalde siklus van misbruik en geweld te verbreek.









