NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die Nasionale Verbruikerskommissie (NCC) waarsku verbruikers oor die terugroeping van spesifieke droë honde- en katkosprodukte, soos deur RCL Foods uitgereik.
Dit sluit in verskillende groottes Bobtail, Catmor, Canine Cuisine, Optimizor, Ultra Pet en Superwoof. Ongeveer 55 352 bokse (sakke) is op 26-29 Mei, 4-5 Junie en 17 Junie vervaardig en regoor die land versprei.
Volgens RCL Foods het hulle verhoogde vlakke van Deoxynivalenol (DON) in sekere besendings waar mielies gebruik word om droë troeteldierkos te vervaardig, geïdentifiseer.
DON is ‘n natuurlik voorkomende mikotoksien wat in graan soos mielies voorkom. Die teenwoordigheid van DON in hierdie produkte het ontstaan uit rou materiale (mielies) wat tydens produksie gebruik is. Die finale troeteldierkos het vlakke van meer as 1000 ppb (1ppm) bevat. Dit kan lei tot verlies van eetlus en spysverteringsprobleme by troeteldiere.
Troeteldiereienaars moet ophou om hul troeteldiere die betrokke produkte te voer en dit terugneem na die kooppunt vir ‘n volle terugbetaling, met of sonder enige bewys van aankoop. Die NCC sal die terugroeping monitor om nakoming van die Verbruikersbeskermingswet te verseker.
Navrae: Phetho Ntaba by 082 809 2031 of 012 065 2040.









