STELLALANDER-VRYBURG: Die polisie in die provinsie, saam met ander wetstoepassingsagentskappe, hou steeds slag met die inhegtenisneming van verdagtes deur middel van Operasie Shanela.
Tussen Maandag 30 Junie en Sondag 6 Julie 2025 is talle verdagtes vir verskeie misdade gevang. Die arrestasies het verband gehou met klagtes soos roof met verswarende omstandighede, moord, poging tot moord, gewone- en ernstige aanranding, dwelmhandel, onwettige drankhandel, besit van dwelms, inbrake by sake- en residensiële persele, en nog vele ander. Verder is 30 verdagte ongedokumenteerde persone deur immigrasiebeamptes verhoor en inhegtenis geneem. Van die 871 verdagtes was 319 deur speurders opgespoor en tydens spesiale operasies in hegtenis geneem.
Die polisie ook 20 onwettige kroeë en drankwinkels gesluit en 41 verdagtes in hegtenis geneem vir bestuur onder invloed van alkohol. Die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord bly ’n prioriteit, met 27 arrestasies vir verkragting, 52 vir besit van gevaarlike wapens, en 218 vir aanranding met die bedoeling om ernstige liggaamsbeserings aan te rig. Vir die besit van dwelms is 96 arrestasies in die provinsie uitgevoer. Op Vrydag, 4 Julie 2025 het inligting gelei tot die inhegtenisneming van ’n 37-jarige man in Ipelegeng, Uitbreiding 5, Schweizer-Reneke, nadat byna 2 kg dagga by hom gevind is. Die dagga en kontant is deur die polisie in beslag geneem. Die man het Dinsdag, 8 Julie in die Schweizer-Reneke-landdroshof verskyn op aanklagte van daggahandel. Gedurende die operasies is 330 persele, 2884 persone en 948 voertuie deursoek. Die polisie het ook alkohol, tien vuurwapens, 144 ammunisie, verskeie dwelms en kontant in beslag geneem. Die waarnemende Provinsiale Kommissaris, Majoor-generaal Patrick Asaneng, sê die weeklikse hoë-digtheid-operasies, wat deur die distrikskommissarisse en senior beamptes gekoordineer en uitgevoer word, begin geleidelik die hoë misdaadvlakke veral in hoog-risiko polisiestasies verminder.