BRITS POS – BRITS – Kompetisie is altyd goed en wanneer die manne vir die titel as potjiekos-koning meeding, word daar behoorlik uitgehaal en gewys in so ‘n smaaklike en sappige stryd!
Om so die “titel” te dra was daar nog altyd ‘n gekibbel tussen die twee neefs, Jan (Patat) van der Walt en Peet van der Walt, oor wie nou eintlik die beste pot maak.
Om woord by daad te sit het die twee besluit hulle gaan mekaar die stryd, tydens die eerste Moer ‘n Pot Potjiekoskompetisie, aansê.
In die goeie gees waarmee die neefs die uitdaging aanvaar het, het hulle besluit om die kompetsie by Brits Vliegklub aan te bied, die publiek te nooi om saam te kom eet en fondse wat met die potjies ingesamel word, aan die klub te skenk.
Reeds vroeg Saterdagoggend, 25 Oktober is die vure by Brits Vliegklub aangesteek en Peet en Patat, elkeen gepantser met ‘n groot lepel en voorskoot, het hulle posisies agter elkeen se nommer 25 swartpotjie geneem.
Terwyl Patat en Peet hul kulinêre vernuf en kreatiwiteit op die proef gestel het, het die geur van uiteenlopende bestanddele tot ‘n feestelike atmosfeer bygedra.
Van geheime deel, soos spesiale kruiemengsels was daar nie sprake nie, maar die twee potte het die drie beoordelaars, Heinrich Werner, Francois Rossouw en Hennie Scheepers, behoorlik laat kopkrap om uiteindelik ‘n wenner aan te wys.
Om die twee liplek-lekker potjies te beoordeel was voorwaar ‘n baie lekker, maar moeilike taak, want die punte was tot op die laaste nog gelykop. Met slegs een punt wat tussen die potjiekos-koning en sy “kneg” gestaan het, was dit daardie ietsie ekstra wat Jan (Patata) met die louere laat wegstap het.
Die bestuur van Brits Vliegklub bedank die twee neefs vir hul inisiatief asook die borge wat die dag moontlik gemaak het van harte.









