Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

BRITS POS – BRITS – Lede van Brits Vroue Landbou-unie het 15 Oktober nie net hul Oktober vergadering aangebied nie, maar ook Nasionale Tuindag op besondere wyse, in die pragtige tuin van Vlam en San Pieterse in Hartbeespoort, gevier.
Dié geleentheid, wat omring was deur groen loof, kreatiewe dekor en warm gasvryheid, het ’n heerlike samesyn van tuinboukennis, kuns en gemeenskapsgees gebring.

Eleanor Rossouw het as gasvrou opgetree en saam met haar span, Elize Botes, Christine Janse van Rensburg en Elaine Smit, ’n treffende program aangebied. 
Elaine, as sameroeper van die dag, het gesorg vir die gladde verloop en die atmosfeer was van begin tot einde inspirerend. Elke lid is ook deur Rozanne Gresse van Protek met ‘n propvol geskenkpakkie bederf. 
Die voorsitter, Neeltje Louw, het die vergadering afgeskop met ’n voorlesing van twee ikoniese gedigte: “Winternag” deur Eugene Marais en natuurlik die seisoensgepaste “Oktober” deur C. Louis Leipoldt – ’n huldeblyk aan die natuur en die simboliek van groei en vernuwing.
Daarna het Vlam Pieterse, bekende tuinboukundige en een van die sprekers van die dag, die lede toegespreek. Hoewel hy vele ander hoede dra en ook al 25 Comrades-marathonne voltooi het, bely Vlam dat sy ware passie by tuinbou lê en dié liefde weerspieël duidelik in sy prag tuin.
Vlam het waardevolle wenke gedeel oor basiese tuinboukunde, met sy kernboodskap: “Ken eers jou klimaat voordat jy plant.” Hy het verduidelik dat dit jou baie frustrasie en geld kan spaar as jy plante kies wat aangepas is vir jou spesifieke omgewing.
Verder het hy beginsels van tuinontwerp bespreek, soos die herhaling van elemente (hout, staal) om eenheid te skep en hoe rigtingwysers soos ’n rooslaning funksioneel én esteties kan wees. 
Met Nasionale Tuindag as agtergrond, was die fokus op plante egter nie volledig sonder om ook oor hul vyande te leer nie. 
Lezindi van der Walt, veldbeampte van Sakata, het met kundigheid oor plantsiektes en -peste gepraat. Haar passie is voedselveiligheid en sy benadruk hoe belangrik dit is om die regte gifstowwe verantwoordelik aan te wend – sonder om skade aan die omgewing of mens te doen. Sy het ook verduidelik hoe verpakking-etikette se simbole jou help om veilige gebruik te verseker, en dat streng regulasies nou op rooibandprodukte toegepas word.
Haar insig het ’n nuwe waardering geskep vir die balans tussen mens, plant en omgewing – en dat net soos voedsel jou liggaam voed, voed plante jou siel.
Na afloop van die vergadering het Elaine Smit ‘n witmelkhoutboom aan Vlam oorhandig as blyk van waardering vir sy tyd en die deel van sy kennis.
Die vergadering is afgesluit op ’n heerlike noot met vars vrugteslaai en roomys, voorgesit deur Eleanor Rossouw en haar span. Die warm geselligheid het gewys dat VLU-lede nie net hul hande in die grond inslaan nie, maar ook hul harte oopmaak vir mekaar.
’n Dag van tuinbou, leer, inspirasie en gemeenskap – presies wat Nasionale Tuindag veronderstel is om te wees. 
Belangstellendes wat deel van die VLU Britsitak en die aktiwiteite wil wees kan ‘n e-pos na: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. stuur. (Foto’s verskaf)