BRITS POS – BRITS – Onder leiding van ‘n nuwe en dinamiese bestuurspan, is Brits Rugbyklub se spelers volstoom besig en gereed vir die seisoen wat voorlê. Die nuwe bestuur is onlangs aangekondig en sluit in: Andries Kruger (voorsitter), Kriek Stadler (ondervoorsitter), Renier Robbertse (tesourier), Branden van der Merwe (terrein- fasiliteerder), Jacques Oosthuizen (direkteur van rugby en hoofafrigter), Brandon Gibson (raadgewende adviseur), Almari de Koker (sekretaris), Suzette Grobler (assistent sekretaris), JJ Grobler (hulpafrigter) en Ettienne Swemmer (klubhuiseienaar).
Dié nuwe bestuurspan vir die komende seisoen bestaan uit jong, energieke leiers wat nuwe idees, vars denke en hernieude gees na die klub bring.
Volgens hulle is daar reeds groot planne in wording en verskeie belangrike aankondigings sal eersdaags met die gemeenskap gedeel word.
Die klub het bevestig dat daar ongeveer 60 spelers is wat hulle reeds tot die nuwe seisoen verbind het en verskeie ander spelers wat binnekort by die klub sal aansluit.
“Dis beslis ‘n teken dat daar sterk herlewing van plaaslike rugby en groot belangstelling vanuit die gemeenskap is,” sê die voorsitter, Andries Kruger.
Oefening vind Maandae, Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00, by Hoërskool Brits plaas. Alle spelers, oud en nuut, word aangemoedig om deel te word van die voorbereidings vir ’n mededingende en opwindende seisoen. Belangstellendes kan Kriek Stadler by 064 225 6982 of Andries Kruger by 082 449 0178 vir meer inligting skakel.
Die klub se eerste wedstryde vind Saterdag, 7 Februarie by Westelikes Rugbyklub in Pretoria-Wes plaas.
Die bestuur bedank almal betrokke by die klub vir voortdurende ondersteuning. (Foto’s verskaf)









