BRITS POS – BRITS – Na jare van uitdagings en afsonderlike pogings het twee van die omgewing se trotse rugbyklubs, Kwena Rugbyklub en Brits Rugbyklub, besluit om hul kragte saam te snoer.
En so is daar nuwe lewe in die klub, wat deesdae as Brits-Kwena Rugbyklub bekendstaan, geblaas.
Die spelers gaan letterlik die bul by die horings pak en met entoesiastiese energie, visie en ’n passie vir die spel, gaan daar ‘n groot herlewing by die klub wees. Onder leiding van ’n dinamiese nuwe bestuurspan het die klub se spelers reeds hul eerste merkwaardige verskyning, tydens die afgelope naweek se Harties Berg en Dal 7’s-toernooi, gemaak.
Volgens die afrigter, Renier Robbertse, was dit die eerste keer in jare dat die klub twee volledige spanne ingeskryf het, ’n teken dat die samesmelting reeds vrugte afgewerp het. Brits-Kwena 1 het met vasberadenheid gespeel en dit tot by die semi-finaal van die klub divisie gemaak, waar hulle uiteindelik ’n verdienstelike vierde plek behaal het. Die speler van die dag, Hendrico Grobler, het die harte van toeskouers gewen met sy ywer en toewyding. Sy spel het bewys dat dit nie die grootte van ’n speler se lyf is wat saak maak nie, maar die grootte van sy hart.
Brits-Kwena 2, wat uit ’n paar meer ervare spelers bestaan, het die geleentheid gebruik om hul liefde vir die spel weer op die veld uit te leef. ’n Spesiale oomblik was toe die Brits-legende, Lionel Smit, die veld met sy seun, Johnathan Smit gedeel het – ‘n generasie-oomblik wat die gees van klubrugby perfek vasgevang het. Die samesmelting van die twee klubs is nie net ’n strategiese skuif nie, maar ook ’n emosionele een. Dis ‘n herlewing van gemeenskapsgees, kameraadskap en trots. Met nuwe strukture, groter deelname en ’n hernude fokus op ontwikkeling, lyk die toekoms vir Brits-Kwena Rugby Klub blink. Belangstellendes wat by die klub wil aansluit, kan vir Renier by 071 572 8291 skakel.









