RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die landdroshof was gepak op Dinsdag, 15 Julie, toe die beskuldigdes in die moord van George (68) en Wilma (65) Koster verskyn het om aansoek te doen vir borgtog.
Die twee vermeende moordenaars, Onke Mbongo en Gift Mlhanga, se borgaansoek is egter geweier, tot groot verligting van die Koster-familie en lede van die gemeenskap.
George Koster (jnr) seun van die vermoorde egpaar, het na die hofverskyning aan nasionale media gemeld dat die familie veiliger voel nadat borgtog afgekeur is en hoopvol is dat ander families dieselfde lot as hulle gespaar sal bly.
Daar is steeds nie duidelikheid oor wat werklik dié dag (Saterdag, 14 Junie) by die Platinum Square gebeur het nie. Volgens die beskuldigdes, wat luidens berigte 'n vuurwapen uitgepluk het by die winkelsentrum nadat 'n woordewisseling in die parkeerarea met die egpaar onstaan het, het Wilma Koster ook 'n vuurwapen rondgeswaai nadat haar man geskiet is.
Die beskuldiges het aangevoer dat hulle vir hul lewens gevrees het en uit selfverdediging opgetree het, nadat mnr Koster vir Mbongo met 'n knopkierie aangerand het.
Lt-kol Patric Murunwa, wat getuig het tydens die borgaansoek, het bevestig dat verskeie ooggetuies aangevoer het dat hulle 'n vuurwapen in Mbongo se besit gewaar het. Murunwa het verduidelik dat slegs 'n knopkierie op die toneel gevind is (wat glo die Kosters s'n was) en dat die egpaar geen vuurwapen besit het nie.
Die beskuldigdes kon geen verweer onder kruisverhoor bied nie en daarbenewens is die beweerde moordwapen twee dae later in besit van Mbongo, in sy woonhuis gevind.
In die dae wat op die moord gevolg het, het die beskuldigdes werk daarvan gemaak om die polisie te probeer ontduik. Die beskuldigdes se Kia Rio is vir drie dae op 'n verlate perseel geparkeer en toe na Mbongo se huis geneem. Daar het hulle die motor se nommerplaat teruggesit en ook die agterruit herstel - wat die beskuldigdes beweer mev Koster met haar vermeende vuurwapen stukkend geskiet het. Lt-kol Murunwa het ook getuig dat Mlhanga van plan was om na Mosambiek te vlug.
Na aanleiding van Murunwa se getuienis het die hof beslis dat die beskuldigdes moontlik met die ondersoek sal inmeng of sal vlug as hul vrygelaat word - dus is borgtog geweier.
Die beskuldigdes sal nou in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op Donderdag, 4 September.