Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - 'n Bekende 62-jarige sakeman van Rustenburg en 'n voormalige Rustenburgse sakevrou wat 'n intieme vriendin van die familie is, het Maandagaand omstreeks 20:00 'n noue ontkoming gehad toe 'n komplot wat klaarblyklik daarop gemik was om die twee van hul selfone, kontant en persoonlike besittings en heel waarskynlik die sakeman ('n prominente kontrakteur by Rustenburgse myne) se Toyota Hilux 4x4 te beroof, oënskynlik skeefgeloop en misluk het. 
Die sakeman was ongeveer 18:00 tuis toe sy vrou 'n oproep van dié vriendin ontvang waarin sy slaapplek vir die nag gevra het.

 Die sakevrou was voorheen lank van Rustenburg maar sy en haar man het enkele maande gelede na Pretoria verhuis. Die vrou het egter steeds belange in 'n Rustenburgse loodgietersmaaskappy en was Maandg deur die loop van die dag in die stad om probleme rondom haar sakeperseel in Pres Mbeki-straat met die Rustenburg Munisipaliteit uit te sorteer. Dit was laatmiddag toe sy Maandag teleurgesteld moes verneem dat werkers van die munisipaliteit nie daarin kon slaag om die elektrisiteitstoevoer by die perseel te herstel nie en dat die werkspan Dinsdag in haar teenwoordigheid daarmee sou moes voortgaan terwyl sy hopelik teen daardie tyd steeds in Rustenburg sou wees. Sy was glo herhaaldelik deur die loop van Maandag met beamptes van die munisipaliteit in gesprek.  Die nuus dat die werkers Dinsdag met die herstelwerk sou moes voortgaan en dat sy byderhand moes wees, het haar genoop om haar vriendin (die sakeman se vrou) te skakel en oornagplek te vra sodat sy vir die herstelwerk en moontlike administrasie beskikbaar kon wees voordat sy teen Dinsdagmiddag hopelik na haar huis in Pretoria sou kon terugkeer. 
Die sakevrou het inderhaas gou 'n paar inkopies afgehandel wat sy met haar onverwagte oorslaap sou benodig en pas nadat sy daarvandaan teruggekeer het, het sy soos gereël by haar vriendin se huis opgedaag. Die drie het saam aandete geniet en was besig om tv te kyk toe die sakevrou se selfoon skielik lui. Die oproep was van die munisipale werkers met wie sy vroeër in verbinding was en daar is verneem of sy "nou" (dit was baie naby aan 20:00) bereid sou wees om na die perseel te kom omdat die werkers blykbaar skielik geweet het wat die fout met die installasie was. Sy het ingestem omdat sy dalk in dié geval nie nodig sou hê om nog 'n dag in Rustenburg deur te bring nie en vroeg Dinsdagoggend na Pretoria sou kon terugkeer. Toe haar vriendin se man hoor dat sy van plan was om in die nag na haar sakeperseel te gaan, het hy aangebied om haar te vergesel. 
By die toneel aangekom het die twee effens skuins voor die hekke van die sakeperseel gestop. Aan die oorkant (regterkant) van die pad was die “munisipale werkers” met die elektriese meterkas doenig.
 Hulle het oor die pad gestap om met 'n klompie mans van die munisipaliteit oor die oënskynlike probleem te gesels toe die man (ons sakeman) opmerk dat dit nie eintlik vir hom gelyk het of die werkers veel van die installasie af weet nie.
 Weer moes hulle verneem dat dinge nie so maklik was soos dit vir hulle (die werkers) gelyk het nie en dat hulle ongelukkig weer onverrigter sake sou moes huis toe gaan. Die sakeman en -vrou het onverwyld omgedraai om terug na die Toyota-bakkie aan die oorkant van die pad te stap. Met die oorsteek van die pad het die man die afstandbeheer gedruk en die bakkie se deure het oopgespring. Voordat hulle egter daarin kon dink om in te klim, het 'n wit BMW 1-reeks van agter oor die pad gejaag gekom en baie vinnig effens skuins voor die bakkie se neus stilgehou en vier mans wat almal met pistole gewapen was, het uitgespring. Een van die mans het agterom die bakkie na die passasierskant geloop waar die sakevrou wou inklim en het 'n pistool op haar gerig en met 'n kopknik vir haar beduie om weg van die voertuig te beweeg. Toe die sakeman besef dat hulle die slagoffers van 'n gewapende roof was, het hy besluit "na die duiwel met hulle - hulle kry nie my persoonlike inligting soos banknommers, rekenings en besigheidsbesonderhede nie" en sy selfoon in 'n flink beweging oor die grensmuur van die eiendom langsaam gegooi. Met die gooi van die foon het hy terselfdertyd effens gekoes en met die opkom het hy die voorste man met 'n 9 mm-vuurwapen geweldig hard met die regter-voorarm teen die ken geslaan. Die man het sy balans verloor, 'n skoot afgetrek wat die sakeman naelskraaps gemis het en gestruikel terwyl sy makkers nie besef het wat besig was om te gebeur nie. 
Uit die bloute het 'n patrollievoertuig van 'n privaat-sekuriteitsmaatskappy (Edwin Jonker van FosterTech Sekuriteitsdienste) die kabaal opgemerk en met skreeuende bande voor die perseel stilgehou. Dit het die rowers oombliklik verwar en hulle het paniekerig geraak. In feitlik een beweging het die sakeman om die bakkie beweeg - die vriendin aan die arm gegryp en haar getrek-sleep na 'n reuse kleipot waar hy haar probeer versteek het voordat hy met haar vort is na die bure in 'n pypsteelerf waar hy om hulp geroep het en die inwoners gevra het om die hekke oop te maak sodat hulle die rowers kon ontvlug. 
Die rowers het soos een man in die wit BMW gespring en van die toneel gevlug.  Die vrou was teen hierdie tyd histeries en is deur die eienaars van die pypsteelerf (Juanette en Annette) gekalmeer nadat hulle haar suikerwater ingegee het. Groot was hulle verbasing toe die polisie ook binne 'n minuut op die toneel stilgehou het en 'n verklaring geneem het. Die sakeman en -vrou is 'n rukkie later veilig terug na hul huis waar hulle met groot dankbaarheid tot verhaal kon kom. "Ons Rustenburgers moet uiters versigtig wees wanneer situasies soos hierdie hulle voordoen - veral wanneer dit klink of lyk of dinge nie pluis is nie", het die sakeman gewaarsku. "Ons land is lankal nie meer dieselfde plek as die een wat ons geken het nie," het hy gesê.