Vir Springbok-rugbygeesdriftiges was die afgelope naweek se kragmeting teen die Barbarians op die DHL-stadion in Kaapstad ‘n hoogtepunt en ‘n wegholoorwinning van 54 - 7 het onderstreep dat die Bokke tans steeds as die beste span ter wêreld gereken kan word.
Vir ’n Rustenburgse gesin was die naweek egter absoluut onvergeetlik nadat nog ‘n “Rustenburger” na verlede week daarop kan roem dat hy die eer gehad het om die Springboktrui oor die kop te kon trek. Neethling Fouché (vaskopstut) is verlede Dinsdagaand as een van vier nuweling-plaasvervangers aangekondig om die naweek sy debuut as Springbokspeler teen die Barbarians in Kaapstad te maak. Fouché was deel van die gebruiklike “bomb squad” wat kort na rustyd op die veld verskyn het. Fouché (middel voor) is hierbo by sy familie in hul hotel in Kaapstad afgeneem skaars ‘n uur of wat voordat die vreugdebekers op DHL-stadion Kaapstad begin oorloop het. Van links is pa Janna Fouché, sy suster Mariek Joubert, Neethling, sy ma Frankie Fouché en broer FG.