RUSTENBURG HERALD - SWARTRUGGENS - Eland jukskeiklub het op Saterdag, 15 November, amptelik hul jukskeibane ingehuldig, te midde van groot opgewondenheid.
Die dag is meegemaak deur 17 verskillende spanne wat gedeel het in die pret en wat gesorg het dat die dag ‘n groot sukses was. Klubs van Lichtenburg, die Wesrand, Klerksdorp, Hartbeesfontein, Pretoria, en Swartruggens was daar om hul staal te wys en alhoewel die reën ‘n bietjie gepla het, kon dit nie die dag se kompetisiegees en gemoedelikheid demp nie.
Die kompetisie was straf en teen middagete was daar nog geen uitsluitlike wenner nie. Uiteindelik kon net die laaste spel van die dag die topspan bevestig - Hak en Steek jukskeiklub het eerste geëindig in die A-afdeling.
Só ook is Hak en Steek jukskeiklub as wenners aangewys in die B-afdeling en die Wesrand se Rooikatte het met die louere weggestap in die C-afdeling.
Die organiseerders het hulle goed van hul taak gekwyt om die dag seepglad te laat verloop en die spanne kon die dag gebruik as voorbereiding vir die Junior SA-jukskeikampioenskappe wat vanaf 8-12 Desember plaasvind.
* Die spanbestuurders van die plaaslike Junior-jukskeispan vra die gemeenskap se hulp met moontlike borgskappe of donasies vir hul deelname aan die SA-kampioenskappe. Vir meer inligting, kontak Amia Lipawsky op 072 689 1018.









