Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sport News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - "...En die manne van die Hane
Kraai nie meer nie daar's net trane
En die manne van die Rose..."
Kom ons los Leon se lirieke nou maar eers daar, want dis nie net 'narkose' wat met Rose rym nie!

Saterdagaand het Springbokaanhangers vooraf gedink dat die Engelse nie veel van kompetisie vir Suid-Afrika gaan wees nie. Engeland se paadjie na die semifinaal was baie minder opdraend as Suid-Afrika s'n en 'n hele klompie rugbykenners het gemeen dat die Rose eintlik maar een van Aspoestertjie se lelike susters by die toernooi was. Maar daardie lelike suster het ons Saterdagaand baie groot laat skrik. Vir meer as 70 minute van die wedstryd het Engeland voorgeloop - die halftydtelling was 15-6 in hulle guns. 
Die eerste gedeelte van die tweede helfte het ook nie beter vir die Suid-Afrikaners gelyk nie.
Deon Fourie se koms het egter dadelik soos 'n energie-inspuiting gelyk en kort nadat hy op die veld gekom het, was hy instrumenteel in die maak van RG Snyman se drie. Handré Pollard, wat al vir Manie Libbok in die eerste helfte vervang het, het die drie verdoel, maar die Springbokke was steeds met twee punte agter.
Meteens het dit gelyk asof die horlosie vlerke gekry het; Die sekondes het gevlieg! Moenie my vra presies hoe dit gebeur het nie, want ek weet nie - my oë was vol trane oor ons verloor. Hoe dit ook al sy, die skeidsregter se arm het uitgeskiet, met sy hand wat aandui Engeland word gestraf. Die skop was lank, sowat 50m. En reën wat giet. Niemand sou eintlik vir Handré kon kwalik neem indien hy daardie skop gemis het nie. Maar hy het nie, die bal was sekuur tussen die pale deur. Nou maak die spelers - en aanhangers - reg vir Suid-Afrika se vierde finaal; die een, soos in 1995, teen die All Blacks.
Die Kiwis het vanjaar, tot minder as 'n maand gelede, nie so gevaarlik soos ander jare gelyk nie. Maar teen Argentinië was dit duidelik dat die All Blacks nou weer met mening spiere bult. Ek gaan nie 'n voorspelling waag nie, want albei hierdie uitmuntende spanne speel vir die eer om die Webb Ellis-trofee vir die vierde keer hul eie te maak; albei verdien om te wen. Helaas, daar kan net één wees - en elke Springbokondersteuner gaan hoop, glo en skree dat dit weer ons is. 
Die wedstryd skop Saterdagaand (28 Oktober) om 21:00 af. Die Engelsman, Wayne Barnes gaan waarskynlik die skeidsregter wees, met nog 'n Engelsman,Tom Foley, wat die televisieskeidsregter gaan wees. 
Indien jy dalk Frankryk of Engeland ondersteun het, kan jy hulle vir oulaas Vrydagaand in aksie sien wanneer hulle uitspeel vir derde -en vierde plek.