RUSTENBURG HERALD - KLERKSDORP - Die eerste rugbyspan van Sibanye-Stillwater is die Philip van Rensburg-toernooi se plaatwenners na ‘n oortuigende oorwinning oor hul eweknieë van Klerksdorp op Saterdag, 3 Mei.
Die wedstryd is die afgelope naweek op Olénpark in Potchefstroom beslis.
Die span se kaptein, Sakkie Smith het die helfte van Sibanye se punte in hul oorwinning van 60 - 0 aangeteken. Smith he twee drieë gedruk, sewe drieë verdoel en met twee strafdoele geslaag in ‘n persoonlike bydrae van 30 punte.
Die slot Sibusiso Gwenkane het ook twee keer gedruk en Ruan Jansen van Vuuren, Francois Agenbag, Christo Willemse en Vincent Coto elkeen een drie. Vir rugbygeesdriftiges is die goeie nuus dat die gewilde Neser A-liga vandeesweek met mag en mening afskop en Sibanye sal eerskomende naweek, 10 Mei, met twee spanne teen Potchefstroom in ‘n wegwedstryd in aksie gesien kan word.
Hou gerus Rustenburg Herald dop vir die uitslae van hierdie kragmetings in volgende week se uitgawe.