Dis ‘n storie wat jou kort-kort laat vra of jy nou hier moet lag – en of sou ‘n traan of twee dalk meer van pas wees? Want Morné Malan smokkel met jou kop. Van sy karakters kul jou met hul woorde wat lig klink, maar jou vinnig laat besef daar is veel meer om die lyf as op die oog af.
Minder as water is die verhaal van die die plekkie Bitterwater. Na die regering besluit om ’n nuwe dam in die omgewing te bou, moet hierdie vergete gehuggie met sy vergete mense ontruim word voor die waters kom. Wanneer die bejaarde sendelingdominee op ’n dag poedelkaal en gewapen met ’n stokou Mauser en ‘n Bybel tussen die dorpsmense invaar, word Konstabel Cheslin Fielies, vars oorgeplaas van die Cape Flats, betrek by die eindtye van Bitterwater.