Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Plaaslike krieketlegende is onverwags verlede maand oorlede.
Archie Pretorius (63) het komplikasies ontwikkel na ‘n skouer-operasie en is op 31 Julie oorlede.
Hy is einde Mei opgeneem en was volgens sy dogter, Shirene, nege weke in die noodeenheid van Life Anncron Hospitaal, waar hy ook oorlede is. ‘n Gedenkdiens het op Vrydag 8 Augustus plaasgevind.
Klerksdorp Rekord het met die krieketbaas Jacques Faul oor sy jare lange vriend gepraat. Jacques het sy gedenkdiens bygewoon. Hy het Archie meer as 35 jaar geken en gesê hy het diep spore in die sport getrap. “Hy was ‘n man van inbors. Hy het begin as klubspeler by die Vaal Reefs krieketklub, toe klubvoorsitter, het gedien op die NW krieketraad en toe president.
“Hy was ook ‘n administrateur en het op die raad van Krieket SA gedien. Hy het ook in sy lewe krieket by KHS afgerig en was al die skool se BL-voorsitter,” vertel Jacques.
Hy beskryf Archie as ‘n man van integriteit, en ‘n man wat sy kennis van die sport en leierseienskappe op en van die veld af gewys het - selfs in sy laaste dae. Archie het nie net krieket gespeel en bestuur nie. Hy het vanaf 1987 by AngloGold gewerk en het afgetree as senior bestuurder van die forensiese oudit afdeling.
Archie was getroud met Shirley. Hy word ook oorleef deur drie kinders.