Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Wat ‘n voorreg om op Donderdag 8 Mei, die eeuviering van Afrikaans as amptelike taal van Suid-Afrika te vier.
Dis hoe Klerksdorpse prokureur Danie de Kock, hierdie mylpaal beskryf. Op 8 Mei 1925 het Afrikaans, naas Engels, amptelik een van Suid-Afrika se twee landstale geword.
“Afrikaans is natuurlik veel ouer as ‘n honderd jaar, maar die datum 8 Mei 1925 is sonder twyfel een van die belangrikste datums aangesien dit die dag was wat Afrikaans amptelike status gekry het. ‘n Status wat dit na 1994 behou het en vandag nog steeds het.
“Afrikaans se storie strek terug na die 1500’s met die eerste klanke geskep deur die Khoi-Khoi en Europese seevaarders as kontak taal om mekaar te verstaan en te onderhandel. Vandaar die eerste vorm van ons taal: Khoi-Afrikaans. Afrikaans groei verder deur die invloed van slawe wat hier aangekom het tot die eerste geskrewe Afrikaans wat in Arabiese skryfkuns in die Bo-Kaap aangeteken is. Ons taal bly groei, deur pyn en trauma tot ‘n universiteitstaal,’’ skryf De Kock in sy huldeblyk aan Afrikaans wat hy met Klerksdorp Rekord gedeel het.
Die eerste Afrikaanse maandblad, die Afrikaanse Patriot, is reeds op 15 Januarie 1876 uitgegee. Die inleidende sin van die blad lees soos volg “Een Afrikaanse koerant! Wie het dit ooit gedroom! Ja, Afrikaanders! een koerant in ons ei’e taal! Dit het baiang moeite gekos om so vêr te kom; dit kan ek julle verseker”.
Bekroonde skrywer en kunstenaar, Sandy Schoeman deel De Kock se sentiment oor Afrikaans. Sy sê haar eerste kennismaking met Afrikaans was die gedigte wat haar ma vir haar as klein dogtertjie voorgelees het.
Sandy Schoeman sê haar eerste kennismaking met Afrikaans meer as net voertaal, was toe sy baie klein was. “Ek het daar reeds besef dat ‘n mens met ‘n taal iets kan skep, die kreatiewe proses wat mens in kuns ook kry. Dis baie meer as net ‘n manier om iets te sê. Dis my moedertaal, ‘n mooi taal, waarin jy jouself so mooi kan uitdruk.’’
Vir Stefaans Coetzee is dit belangrik om die taal te laat voortleef. “Ek kan nie help om te wonder oor die voortbestaan van Afrikaans nie, veral aangesien so baie Afrikaanse nuustitels nie meer bestaan nie. Dit is in ons hande as skrywers en lesers om Afrikaans behoue te laat bly. As ons hom nie skryf of lees nie, gaan dit weer ‘n kombuistaal word.’’
Merang in Afrikaans
Afrikaans-Amptelik 100 reël verskeie feeste deur die loop van die jaar. Die hooffees skop af op 8 Mei by die Afrikaanse taal Monument in die Paarl.
Die Afrikaans-Amptelik 100-veldtog is van stapel gestuur om die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal te vier as ‘n groep mense wat lief is vir die taal.
In Klerksdorp word ook ‘n paar verskillende vieringe beplan. Die eerste funksie is by Verdant op 20 Junie waar The B Gallery in samewerking met Klerksdorp Boekefees ‘n aand van kuns, musiek, skryfwerk en digkuns aanbied.
Alle skrywers, digters, fotograwe en kunstenaars (jonk en oud) word genooi om Afrikaans 100 te vier op papier, in ‘n foto of dit in ‘n kunswerk uit te beeld. Al die wengedigte en -kortverhale sal saam met die kuns en fotografie in ‘n spesiale gedenkbundel gebind word wat teen kosprys by die Klerksdorp Boekefees einde Oktober te koop sal wees.
Gedigte van nie langer as 26 woorde, en ‘n kort-kortverhaal nie langer as 500 woorde kan ingeskryf word. Foto’s en skilderye sal gekeur word om aan die uitstalling deel te neem. Nie meer as drie inskrywings per persoon nie. Inskrywings is ook gratis. Die sluitingsdatum hiervoor is 10 Junie. Beoordelaars sal beste kortverhale en gedigte kies wat voorgelees gaan word op die aand. Stuur jou inskrywing aan Stefaans Coetzee by
Afrikaans is in die hande van haar sprekers. Kom ons vier haar diversiteit, kom ons vier haar reis tot nou en kom ons maak saam ‘n pragtige lappieskombers wat ons taal kan omvou en vir die volgende honderd jaar kan bewaar.
* Merang beteken fees en behoort tot die leksikon van Kaapse Moesliemafrikaans.
* Ontmoet Stefaans en Sandy Saterdag 10 Mei by PNA in Matlosana Mall waar hulle hul boeke gaan teken.