Mode-ontwerper deel raad vir matriekafskeid
Matriekafskeid is ‘n Suid-Afrikaanse tradisie en natuurlik die kans om jou persoonlike styl te wys na jare van ‘n vervelige skooluniform dra.
Klerksdorp Rekord het gaan kers opsteek by Kobus Rautenbach van Kobus Rautenbach Couture oor die moets en moenies vir die matriekklas van 2025 om hul groot aand glad te laat verloop.
As ‘n mode-ontwerper is ‘n “oop gesprek’’ tussen ontwerper en kliënt die belangrikste. “Dit is jóú rok, en om eerlik te wees oor waarvan jy hou en nie hou nie, beteken nie jy gaan ongeskik voorkom nie, dit beteken julle sal lekker saam werk en jou ontwerper sal jou visie en inspirasie beter verstaan.’’
Kobus moedig matriekmeisies aan om hul huiswerk vooraf te doen en na ontwerpers se verskillende style te kyk en besluit wat hulle van hou. “Net soos fotograwe het ontwerpers ‘n styl, en dit wat hulle ken doen hulle die beste en julle sal baie goed oor die weg kom dan. Deel jou inspirasiefoto’s wat jy al bymekaar gemaak het vandat jy aan jou rok begin dink het.
“Vertrou ook jou ontwerper se opinie wanneer dit kom by die regte snit, proporsie en detail wat by jou liggaamsbou sal pas. Ons geniet die proses net soveel soos jy en wil dit ekstra spesiaal maak vir jou.’’
Matriekafskeid kan ‘n duur uitgawe wees. Kry ‘n kwotasie by jou ontwerper, en hou by ‘n begroting. “Onthou jou hare, grimering, proewe, foto’s, skoene en juwele moet alles nog bymekaar getel word. Wees eerlik met jou ontwerper oor jou begroting, soms is dit ‘n klein verandering wat gemaak kan word om by die begroting te hou.’’
Modegier vir die jaar: CLASSY
Geen meer uitspattige kontras of “over the top” style nie. Skoon snitte, elegante slepe, rapsies ryk detail hier en daar. Gewilde kleure vir die jaar is rooi, skakerings van blou en meer helder as gewone kleure. Vir ‘n rok met ‘n slit by die been, dra ‘n velkleur blokhak om jou been langer te vertoon. As jy baie blink om jou gesig en skouers het, hetsy dit kant, kristalle of krale is, moenie ‘n hangertjie dra nie, dit breek jou gesig en nek in blokke op. Belê eerder in ‘n mooi stel oorbelle wat aandag trek en ‘n groot ring wat duidelik vertoon op fotos.
Moets:
* Wees gemaklik in jou rok. Jy gaan ‘n hele paar uur daarin spandeer, so kies ‘n styl waarin jy gemaklik kan beweeg en sit. Dieselfde met skoene. Oefen, oefen, oefen met die hakke as jy nie gewoond is aan hakke nie en loop hulle in sodat hulle jou nie seer maak nie, want hakke verander jou postuur en jy moet gemaklik en regop kan loop.
* Dit is nie altyd nodig om ten duurste te gaan met jou lap nie, as die meerderheid van jou rok ‘n skoon elegante mooi lap is, maar ‘n deel daarvan het duursame krale en kristal of ‘n kant tekstuur, is dit net so treffend. Belê eerder in mooi juwele en skoene wat jy weer sal kan dra - groot statige oorbelle of ‘n hakkie wat ‘n gemaklike sool het.
* Maak seker die lengte van jou rok is 100% reg, sodat jy nie voel jy moet jou rok optel as jy op die rooi tapyt loop nie, en loop rustig! Kommunikeer met jou metgesel dat julle rustig moet loop en julle tyd vat op die tapyt. Dit is maande se voorbereiding wat julle in twee minute doen, so gee vir die gehoor ‘n “show”. Waai vir iemand wat jy raaksien en staan ook stil hier en daar sodat almal kan sien en inneem hoe mooi julle lyk.
* Sny en kleur jou hare so twee weke voor die groot aand. Wys vir jou haarkapper hoe jou rok gaan lyk en kies ‘n haarstyl wat dit sal komplimenteer. Mooi haarknippies kan ekstra flair verskaf. Jou haarstilis sal jou die regte raad gee. Belangrik, moet nie gaan bad nadat jou hare gedoen is nie, die vog sal jou styl beïnvloed.
Vir die manne
Matriekafskeid is natuurlik ook ‘n kans vir die ouens om hul styl te wys.
Kobus sê as jy ‘n pak laat maak, vra jou ontwerper om ‘n goeie wol lap te gebruik wat die waarde en integriteit van jou pak meer duursaam maak en wat jare langer sal hou. Dink ook vooruit, of jy die styl wat jy kies weer na toekomstige funksies toe sal kan dra, en belê in ‘n stuk of volledige pak sodat jy nie elke jaar ‘n nuwe een hoef te koop nie.
Dit is baie maklik om met ‘n manspak ‘n verskillende voorkoms te skep deur ‘n hemp, das, strikdas, ‘pocket square’ of selfs saam met ‘n denim gedra word. “Koop of laat maak ‘n goeie kwaliteit aandpak wat gemaklik en mooi gevorm is, en jy sal soos ‘n wenner lyk op jou foto’s.’’
Moets:
* Sorg dat jou sokkies dieselfde kleur as jou skoene is. Dit is nie altyd nodig om ‘n das dieselfde kleur as jou metgesel se rok te maak nie, deur net ‘n rapsie van die kleur iewers in jou pak te herhaal sal ‘n verskil maak. Onthou ‘n das ‘clip’ - dis ‘n klein detail wat die prentjie mooi afrond.
* Bring ‘n klein element van jou eie persoonlikheid in jou pak of rok, al is dit ‘n karakter uit ‘n film of iets sentimenteel wat jou ouma vir jou gegee het en kry foto’s daarvan. Dit is mooi herinnering, en ook ‘n ‘well done’ vir jouself om jou skoolloopbaan te vier.
As dit kom by foto’s
As ‘n mode-ontwerper, het Kobus ook raad wanneer dit kom by jou fotosessie. Vir die manne, sê hy, neem foto’s eers sonder jou baadjie sodat daar geen sweetkolle wys op jou foto’s nie.
“Baadjies skep ‘n indrukwekkende formele prentjie, maar die realiteit is dat dit warm is wanneer die matriekafskeid plaasvind. Vra gerus vir jou fotograaf jy wil eers sonder jou baadjie poseer sodat jou hemp onder droog bly, en daarna ‘n paar formele foto’s met die baadjie wat sweetkolle wegsteek.’’
Dra ‘n klam lappie saam sodat jou skoene regdeur die fotosessie blink gevee kan word en nie stof optel of vinnig vuil lyk nie. Vat gerus ook ‘n sakdoekie saam as julle gaan foto’s neem om die olie op jou gesig liggies af te vee as dit warm raak. Dit vermy ‘n blink en geswete voorkoms op jou foto’s.
* Aan elke paartjie, maak seker julle oefen hoe om in te hak by mekaar as julle loop. Mens kan op jou senuwees wees so moenie verkeerd om in hak nie. Oefen daai beweging. Dames, maak seker jy klim grasieus by die motor uit met jou bene bymekaar, oefen sommer in julle eie motor by die huis hoe jy gaan uitklim.
Moenies:
* Moenie jou styl gedurig verander deur oor en oor na verskillende style vir inspirasie te kyk nie. Hou by jou oorspronklike idee en delete alles onnodig van jou foon af wat jou oorspronklike idees beïnvloed. Dit gaan jou meer kos om jou rok oor en oor te verander so dissiplineer jouself om nie te wil “karring en verander” as jou rok reeds in die maak is nie.
* Moenie jou naels dieselfde kleur as jou rok maak nie, hou by ‘n sagte ‘nude of french’ met een nael ‘n kunswerkie op. Wees spelerig met jou toonnaels en bring kleur daar in as dit jou persoonlikheid uit bring.
* Moenie vergeet om room op jou elmboë en knieë te smeer voor die foto’s nie en drink baie water die dag van jou fotosessie sodat jou vel natuurlik mooi lyk en nie moeg of droog nie.
* Vermy om jou grimering te donker te maak. As jy foto’s in die dag neem, doen ‘n meer natuurlike voorkoms as te swaar, want dit kan jou gesig maklik donker en moeg laat lyk.
Laastens, geniet die partytjie na die funksie saam met jou vriende. Wees gesellig en lag lekker saam, maar wees verantwoordelik! Moenie in die strate rondrits nie. Bespreek een plek waar julle gaan kuier en hou jou ouers op hoogte dat jy veilig is.