Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - AfriForum het gedurende die skoolvakansie 11 spoedhobbels geverf. Die hobbels is in Vlei-, Lewis-, William- en Erasmusstraat en Ottolaan geleë.
“Die tak het hierdie projek aangepak omdat die munisipaliteit herhaaldelik versuim om dit te doen en sodoende die lewe van motoriste en leerlinge in gevaar stel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
“’n Spoedhobbel wat nie sigbaar is nie, is baie gevaarlik - veral wanneer die bome se skaduwees daaroor val en motoriste wat nie met die paaie vertroud is nie, daaroor ry. Die belangrike werk wat deur die tak onderneem is, maak ’n reuse verskil op hierdie paaie.”
Sy het bygevoeg dit is ontnugterend om te sien dat dié verfwerk nie so uitdagend was soos wat die munisipaliteit wou voorgee nie. “Dit is geheel en al onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, wat veronderstel is om al die toerusting te hê om die taak vinnig te verrig, vir so lank nagelaat het om dit te doen dat die gemeenskap besluit het om self in te spring.’’