Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Mariska Oosthuizen-van Tonder, ‘n VF Plus-raadslid in die Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit, het haar doktorsgraad in Filosofie in Gesondheidswetenskappe met Verpleegkunde aan die Noordwes Universiteit verwerf. Sy het die graad verwerf met die ontwikkeling van die holistiese “Bloom socio-emotional well-being (SEWB)”- program vir voorskoolse (3 tot 5 jarige) kinders.
Die program is ontwikkel om ouers en gesondheidswerkers onder meer toe te rus om enige faktor wat die geesteswelstand van kinders bedreig, tydig te identifiseer en remediërende stappe te neem. Die Bloom-program vul ‘n groot leemte wat tot dusver in basiese gesondheidsorg en vroeë kinderontwikkeling bestaan het.
Michal Groenewald, leier van die VF Plus in die provinsie, het met sy gelukwensing aan haar gesê die VF Plus sal hierdie kundigheid aanwend tot die onmiddellike voordeel van die gemeenskappe in die Kenneth Kaunda-distrik en so die implementering van die program landwyd promoveer.










