Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Bloedrooi Hyundai Grand i10 het ‘n nuwe baas.
Flimieda Spar het dié nuwe motor op Maandag 2 Junie aan Mandie Duvenage oorhandig en sy kon nie genoeg glimlag nie. “Ek is super excited,” het sy aan Klerksdorp Rekord gesê.
Spar het vyftig van die rooi blitse weggegee en al wat sy moes doen is om ‘n deelnemende produk te koop en haar Rewards-kaart te gebruik en voila, sy het ‘n kar in ‘n gelukstrekking gewen.
“Ek bly naby aan die Spar en koop gereeld hier,” het sy gesê, steeds met haar glimlag wat van oor tot oor strek.
Mandie is Matlosana Mall se sentrumbestuurder en het die nuus al op 30 April gekry. “Ek het aanvanklik gedink dit is ‘n scam of hulle wil iets aan my verkoop. Ek het met ‘n halwe oor geluister. “Tot ek besef het dat ek regtig ‘n kar gewen het,” lag sy.
Sy het bygevoeg dat dit haar kar is en dat haar kinders op die agtersitplek kan sit.