Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Toekafees was vir Klerksdorpers ‘n reis na die verlede en ‘n fees van tradisie. 

“Dit was ‘n groot sukses en ons feesgangers het gesê hulle het die nostalgiese reis terug in tyd geniet,’’ gesels Johan Gerber van die Triest-sentrum. Dié fees wat ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir die sentrum vir volwasse gestremdes is, gaan nou ‘n jaarlikse instelling word.

 

 

Met 18 veteraanmotors, 19 ou trekkers en verskeie antieke enjins, was daar meer as genoeg om oud én jonk se belangstelling te prikkel. Dit was egter die laer ossewaens wat ook aandag getrek het, met ‘n regte boere gesin kompleet in Voortrekkerklere.

Johnelle de Wet en haar ouers het met hul ossewaens, verskeie oudhede en boere-resepte opgedaag om aan feesgangers ‘n blik te gee op die lewenstyl van die Voortrekkers van destyds. Die De Wets woon in die Ottosdal omgewing.

Johnelle, haar twee kinders, Bastiaan en Marinica, en haar ouers, Pieter en Marina Breytenbach, was almal geklee in tradisionele Voortrekker drag. Die gesin hou jaarliks die laaste naweek van Oktober ‘n groot boerefees en gaste kan vir die hele naweek kom kamp en daar word op die tradisionele wyse fees gehou van die Vrydagaand tot die Sondagmiddag. 

Vir die Toekafees het hulle vier osse saamgebring wat ‘n ossewa getrek het waarop kinders gery het.  Ander gewilde aktiwiteite het kettie-skiet, granaat-gooi, mielies ontpit en self maal ingesluit. Een van die hoogtepunte van die dag was beslis die demonstrasie van hoe ’n ossewa werk. Boonop is daar selfs ’n koei gemelk en vars botter gemaak - ’n ware terugkeer na die eenvoudige, harde maar waardevolle dae van ons voorgeslagte.

Die kos was net so tradisioneel soos die vertonings. Feesgangers het gesmul aan geregte soos afval, skaapstertjies, potjiekos, pap en wors, melkkos en kaiings - om maar net ’n paar te noem.

Vir die musiekliefhebbers het Goudkop se Boereorkes en Triest se eie Angel Voices gesorg vir vermaak. Met ’n bywoning van sowat 750 mense was die fees nie net ’n kultuurerfenisviering nie, maar ook ’n gemeenskapsamekoms soos min.

Triest bedank die gemeenskap vir hul ruim ondersteuning van hierdie fondsinsameling. Alle fondse wat ingesamel is, sal ten volle aangewend word vir die sentrum vir volwassenes met intellektuele gestremdhede. “Dit stel Triest in staat om voort te gaan met hul kosbare werk onder van die mees kwesbare lede van ons samelewing,’’ het Gerber gesê.
Toeka 2 sal op 30 Mei 2026 plaasvind.