Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Het jy al voor jou klerekas gestaan en wonder wat jy gaan doen om jou vervelige klere op te kikker?
Die alombekende voorkomskonsultant Sandra Taljaard is binnekort gasspreker by ‘n geleentheid by die Anistemi aftree-oord wat die Golden Girls aanbied. Dames - en hul mans - is welkom om na Sandra te kom luister op 28 Junie. Taljaard sal die dames wys wat jy alles met ‘n serp kan doen om jou uitrusting op te kikker.
Sy is ‘n internasionale beeld-, styl- en modespesialis, stilis en professionele modekoper. ‘n Modeparade sal ook aangebied word.
Nog ‘n verrassing die dag is Petro Kotze-Odendaal wat kom gesels oor haar boek “Wanneer die krieke stil raak”. Petro se verhaal bewys dat gewone mense saam met Jesus op water kan loop.
Die kaartjies is teen R100 elk by die aftree-oord beskikbaar. Sop en sjerrie sal bedien word. Die verrigtinge sal om 10:00 begin. Anistemi is in Russelstraat, Wilkoppies geleë. Meer inligting is beskikbaar van 082 908 2873.