Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Klerksdorpse laerskoolseun veg steeds kliphard teen bloedkanker. Chris Grobler se bloedkankertelling is hemelhoog.
Laerskool Saamtrek het laer getrek rondom die familie en help om fondse in te samel vir mediese onkostes, want die gesin se mediese fonds is reeds uitgeput. Chris en Chinel, sy tweelingsussie is in gr 7 in die skool.
“Ten spyte van sy pyn en al die hospitaalbesoeke, bly hy glimlag en is ‘n inspirasie vir almal rondom hom,’’ het Petru Myburg van die skool gesê.
Volgens sy ma, Nelmarie, is haar 12-jarige seunskind tans baie siek. “Ons gesin sien eerskomende naweek ‘n dokter by die Steve Biko Hospitaal in Pretoria, wat spesialiseer in bloedkanker. Sy sussie, Chinel, is ‘n skenker en nou kan die bal aan die rol gesit word.”
Hulle het voorheen ‘n dokter in Bloemfontein gesien en hy het hulle na Pretoria verwys. Die gesin het ‘n mediese fonds, maar die fonds is uitgeput as gevolg van die hoë uitgawes. Reis en verblyfkostes na hospitale raak ook onbekostigbaar. Hulle kon Chris ook nie by die staatshospitaal laat behandel nie, omdat hulle ‘n mediese fonds het.
“Ons moes sy chemoterapie stop, want dit het net te duur geword,” het sy pa, Chris snr, gesê.
Die gesin het hulp nodig en sal enige hulp waardeer. “Elke bietjie sal help. Oorweeg dit om die gesin te help,’’ het Petru gevra. Diegene wat wil help, kan ‘n epos stuur na