Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Na die swaar reën die afgelope maande en die Vaalrivier wat twee keer binne etlike weke sy walle oorstroom het, sukkel inwoners om weer die stukke op te tel nou dat die vloedwater begin sak het.
Klerksdorp Rekord is bewus van heelwat vloedslagoffers wat hande in die hare sit oor die skoonmaakproses. Van hulle het alles verloor in die vloed. Ook besighede met hoë uitgawes én volgens die bestuurder van die Wawielpark Vakansieoord betaal die meeste versekeraars nie vir vloedskade nie - die skade is dus vir hul eie sak. Een van die stad se finansiële dienste wat naamloos wil bly, het dit beaam.
Om dit erger te maak, het die Minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, ook gesê dat die regering nie sal betaal vir skade indien mense nie gehoor gegee het om te ontruim nie en as hulle onder die vloedlyn bly. Sy het glo so ver gegaan deur te sê diegene moet in hegtenis geneem word.
Volgens Lorenzo Craucamp, bestuurder: Wawielpark, is hul skade baie erg, maar hulle moes inspring om skoon te maak en kon nie eens dink aan die uitgawes nie, want Nampo-gaste is besig om in te trek en ‘n besige tyd lê voor.
Volgens hom het sommige buitelandse gaste hul verblyf gekanselleer weens die vloed en is dit ‘n groot verlies. “Ons het die Vermaasdrifbrug skoongemaak, sodat gaste kon ry tot by ons. As ons gewag het vir die regering, was die oord seker steeds gesluit,” sê hy.
Hy wil nie bedrae noem nie, maar die verlies aan kansellasies en skade beloop duisende.
Die Transawl Riverside Club (ou Air Force Club) is ook oorstroom en mense moet koppe optel.
Volgens Arthur O’Keefe, bestuurslid, was die water tot in die grondpad langs die klub en die hele klub onder water. Volgens hom was die Boating Club ook onder water en het die water tot by die Gliding Club gekom. “Ek is teleurgestel in die reguleerders van die Vaaldam. Hulle moet besef reënpatrone het verander,” sê hy. Hy wil hê van die sluise moet oopgemaak word as die dam 90% vol is met nog reën op pad. Volgens hom is die watervlak vanjaar die hoogste wat die water nog gekom het in die sowat laaste halfeeu.
“Van die inwoners het nie ontruim nie en alles is verwoes. Die wat ontruim het se meubels is in die saal gestoor en die saal het ook oorstroom. Van die huise was glad nie eers bo die water sigbaar nie,” sê hy.
Arthur het betyds ontruim en sy skade is minimaal. Hy vertel hy het ‘n gevoel gehad hy sal moet ontruim en het dit gedoen voor die groot water gekom het. “My huis is nie erg beskadig nie en ek is dankbaar. Ander mense sit met niks nie. Sommige mense dink om eerder te trek. Jy verloor net te veel.”
Daar is dalk hulp op die horison, want die DA het die regering gevra om die gebied ‘n rampgebied te verklaar. Keefe is egter van mening dat dit net ‘n foefie is, want drie jaar gelede is dit wel as rampgebied verklaar. Almal het glo eise ingestel en hulle wag nog steeds vir hul geld.