Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Gaste het gesmul aan die verskeidenheid geregte wat by vanjaar se Triest wildsfees opgedis is.
Wildsvleis is ‘n lekkerny wat jy nie aldag kry om te eet nie. Diegene wat Triest se jaarlikse wildsfees op Vrydag 1 Augustus bygewoon het, is dit eens dat die geregte eersteklas was en daar was oorgenoeg om te eet. Niemand het honger huis toe gegaan nie.
Johan Gerber, bestuurder, en sy span verdien ‘n pluimpie vir die gehalte van die geregte. Dit het vorentoe gesmaak.
Die voorgereg was wildsbiltongsop. Die tafel het behoorlik gekreun onder die wildsgeregte en die blesbokbobotie, swartwildebees-ghoulash en veral die blesbokkerrie het die monde laat water. Dit was regte “Durban”-kerrie met net genoeg byt.
Die keuse was verbysterend met rooibokpastei, blouwildebees-herderspastei, blesbokboud en njala frikkadelle ook op die spyskaart. Gerber is dankbaar vir die vleis wat geskenk was om aan gaste voor te sit, aangesien dit maar broekskeur gaan by die sentrum weens staatsubsidies wat opgedroog het.