Klerksdorp Rekord, Klerksdorp – ‘n Vlaag voertuigdiefstalle teister Klerksdorp en die polisie doen ‘n beroep op winkelsentrums om sekuriteit op te skerp in hul parkeerareas nadat luukse voertuie in Oktober geteiken is.
Volgens kapt Elize van Schalkwyk, polisiewoordvoerder, is die diefstalle nie geïsoleerd tot net Klerksdorp nie, maar sluit dit Orkney en Stilfontein in. “Voertuie word ook nie net by winkelsentrums gesteel nie, maar ook uit erwe waar dit nie agter slot en grendel gebêre word nie. Diewe is ook waaghalsig genoeg om in jou erf te gaan en al vier jou motorwiele af te steel, as jou motor nie in ‘n motorhuis toegesluit is nie.’’
Motorfietse word ook geteiken en waar die diewe in die begin 50 CC motorfietse gesteel het, is die BMW 1200 GX nou op die skelms se inkopielys. Van Schalkwyk het gesê dat so ‘n model motorfiets einde Oktober van die vloer af by die motorfietshandelaar gesteel is, toe diewe die voorruit in die middernagtelike ure uitslaan.
“Hulle het voorbereid gekom en die gesteelde motorfietse op ‘n sleepwa gelaai voor hulle daar weg is. Die moontlikheid word ondersoek dat dit deel van ‘n diefstalsindikaat is wat bedrywig is hier in Klerksdorp.’’
Volgens Van Schalkwyk is diewe veral bedrywig tussen 11:00 en 03:00 en is buurte soos Wilkoppies, Doringkruin, Adamayview, Flamwood en Flimieda gewild. In van die diefstalle is ‘n wit enkelkajuit Toyota Hilux Legend bakkie in die area opgemerk. In inkopie-ure is die seinblokkeerders weer doenig in parkeerruimtes waar voertuigalarms en toesluitmeganismes gedeaktiveer word. “Maak altyd seker jou deur is wel gesluit as jy jou knoppie druk om die motor te sluit. Moet ook nie waardevolle items oop en bloot in jou motor laat lê nie. Bêre goed soos skootrekenaars, handsakke en waardevolle items waar dit nie van buite af gesien kan word nie.’’
Na heelwat kritiek teen die polisie oor polisiëring in die middestad het die Klerksdorpse stasiekommissaris, Brig (dr) Tsietsi Morebodi ‘n mobiele polisie-eenheid voor die ou FNB in OR Tambostraat geparkeer. “Hierdie area is berug as die gebied waar die grypdiewe die aktiefste is en wat ook gewild is as ‘n ontstaproete as hulle voor Binnelandse Sake toeslaan. Ons het polisielede in uniform by die eenheid en ook polisielede wat in gewone klere die strate patrolleer,’’ het Van Schalkwyk gesê.
Sy het weer ‘n beroep op die publiek gedoen om seker te maak hul deure is gesluit en vensters is toe as hulle deur die middestad ry. “Moet nie op jou selfoon praat terwyl jy met ‘n oop ruit bestuur nie, dan kan jy net so wel die foon vir ‘n grypdief gee.’’
Volgens Van Schalkwyk is die polisie besig met Operasie Safer Season en werk hulle hard om sigbaarheid in Klerksdorp te verbeter.










