Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Klerksdorpse speurder is een van die mans wat in hegtenis geneem is na ‘n kaping in Julie in Elandsheuwel.

Inwoners van die woonbuurt is verlig na die inhegtenisneming van speursers Tshepo Pooe, en sy twee makkers, Christiaan Erasmus (37) en Athini Johnson Sonamzi (29) verlede Vrydagaand 15 Augustus. Die trio kan moontlik verbind word met verskeie ander sake in die buurt waar die skelms hulle as polisielede geïdentifiseer het. 

Volgens brig Sabatha Mokgwabone, polisiewoorvoerder, duur die ondersoek na die kaping in Theunissenstraat waar ‘n geweerskoot afgevuur is, al etlike weke. “Die trio het toegeslaan op ‘n egpaar wat in ‘n oranje Ford Ranger gesit het toe ‘n Volkswagen Polo by hulle stop. Die insittendes het hulle as polisiemanne geïdentifiseer. Die slagoffer het agterdogtig geraak en probeer vlug toe ‘n skoot op hom afgevuur is wat die bakkie se agterband beskadig het. 

“Die man en vrou het na ‘n nabygeleë huis gevlug terwyl die verdagtes met die Ranger weggery het. Die voertuig is later in Leemhuisstraat gekry nadat dit met ‘n ander voertuig gebots het.’’

Die trio het op Maandag 18 Augustus in die Klerksdorpse landdroshof verskyn. Hulle is in aanhouding. Die saak is tot 28 Augustus uitgestel.

Die waarnemende Provinsiale Polisiekommissaris, Generaal-majoor Patrick Asaneng, het gesê hy is bly dat die polisie optree teen misdadigers in sy eie geledere. “Alhoewel dit diep teleurstellend is dat een van die verdagtes ‘n polisiebeampte is wat vertrou word om die wet toe te pas, is dit goed om te sien dat hulle wel hul rieme styfloop.’’

Dit is nie die eerste keer dat sers Pooe met die gereg bots nie. Klerksdorp Rekord het in 2020 berig dat sers Pooe in die hof verskyn het op klagtes van regsverydeling en diefstal. Dit was gedurende die inperkingstyd toe hy na bewering alkohol gekonfiskeer het en dit nooit by die polisiestasie as bewysstukke ingehandig het nie. Na wat verneem word is die saak teen hom en twee ander mans, nog nie afgehandel nie.

Erasmus blyk ook ‘n gewoonte misdadiger te wees met ‘n kriminele rekord so lank soos sy arm. 

‘n Inwoner van Elandsheuwel het op voorwaarde van anonimiteit gesê dat Erasmus ‘n bekende gesig in die buurt is. “Hy verdwyn so nou en dan en dan hoor ons hy is in die selle. Maar as ons maar weer sien so ‘n maand of wat later, dan is hy weer hier rond. Dit lyk nie of iets teen hom stick nie.’’