Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Tienerseun was blykbaar agter die stuurwiel van sy pa se Nissan Navara toe hy oënskynlik beheer verloor en teen die gedenkmuur van die NG Kerk Klerksdorp Oos vasry.
Volgens mense op die toneel het hy weggehardloop en eers later die Vrydagmiddag 4 Julie na die toneel op die hoek van Servaas- en Jan de Wetstraat teruggekeer. Nog twee maats was glo saam met hom in die voertuig. Niemand is beseer nie.
Volgens Piet Niemand wat eiendomsake van die kerk hanteer en op die kerkraad dien, het die seun se pa ook na die toneel gekom en die versekering gegee dat hy die skade sal herstel. “Ons het nog niks op skrif gekry nie, maar het intussen self ons versekering genader en is tans besig om kwotasies vir herstelwerk in te win. Dit was drie jongmanne in die bakkie en almal was geskok. Die een wat bestuur het, het eers weggehardloop. Toe hy terugkom wou hy nie met ons praat nie, maar ek kan dit verstaan. Hy was erg geskok.’’
Niemand het bevestig dat dit ‘n baie sensitiewe saak is vir naasbestaandes wat hul geliefdes se as in die gedenkmuur geplaas het. Altesaam 32 nissies het in die slag gebly. “Ons kon darem elke nissie se inhoud verifieer, dit is net 6 nissies waar daar nie name by is wat ons nog geïdentifiseer moet kry. Maar ons is in die proses om dit te doen.’’
Dit is nie seker wat tot die botsing gelei het nie. Twyfel bestaan egter of die bestuurder oor ‘n geldige bestuurslisensie beskik. Klerksdorp Rekord kon nie ‘n botsingsverslag hieroor by die polisie opspoor nie.