Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hoërskool Wesvalia is na vier wedstryde in die Noordvaal-liga se plaatafdeling steeds bo-aan die log ten spyte van hul nederlaag teen HTS Middelburg die afgelope naweek.
Die Bruin Bere kon Middelburg se Rooi Bulle nie ore aansit nie en het naelskraap met 22-24 verloor. Hulle is egter gemaklik op die bopunt van die log met 94 punte teenoor Kempton Park se 86 wat tweede op die log is.
KHS het op Saterdag 31 Mei na Johannesburg gereis en vir Kempies ore aangesit met ‘n telling van 37-27. Dorian Isaacs op losskakel was briljant en het 22 punte bygedra met een drie, drie strafskoppe en vier doelskoppe.
Tiaan Koen het oudergewoonte ‘n stewige bydrae gelewer en is beloon met ‘n drie. Winton Abraham en Tyran Masango het beide ‘n drie gedruk en kom nou mooi op dreef en veroorsaak kopsere vir die verdediging.
KHS is nou op ‘n wenpad met drie oorwinnings in ‘n ry. Hulle het van die laaste plek op die log (negende) na agste posisie opgeskuif met nog net drie wedstryde gespeel teen die ander spanne se vier. Dit lyk of die Blou Golf nou eers spoed optel met die seisoen goed op dreef. Die naweek durf hulle die langpad aan na HTS Middelburg.