Die nuutste boek deur die bekroonde De Wet Hugo skakel in by relevante temas vir vandag se jeug, veral om liggaamspositiwiteit te bevorder en boeliegedrag aan te spreek.
As ek jy was handel oor twee meisies wat min tot geen ooghare vir mekaar het nie, en hoe hulle eindelik groei uit ‘n interessante leerproses wat lesers sal laat dink aan ‘n paar skreeusnaakse body-swop films en boeke uit die verlede.
Gretchen en Barbara háát mekaar.
Gretchen kry die hoofrol in hulle dramaklub, maar sy word konstant geboelie oor haar gewig, terwyl haar ma ook nog karring oor haar gesondheid.
Barbara is maer en supergewild - maar al haar fobies oor vetwees woed sy en haar beste vriendin, Nicole, op Gretchen uit.
Alles verander skielik wanneer ’n geheimsinnige vrou vol ‘tatoes’ vir hulle ’n sakkie wenspoeier gee. Want dinge loop lelik skeef voor Barbara vir die vakansie na Kamp Kollig, en Gretchen na Kamp Carpe Diem gaan...
En Barbara daag in Gretchen se lyf by die dieetkamp op, terwyl Gretchen in Barbara se lyf by die dramakamp aankom!
Hulle moet letterlik in mekaar se skoene staan. Maar wie weet - miskien word hulle wense tóg waar.
Die boek beloof ‘n skreeusnaakse, maar deernisvolle storie oor boeliegedrag, selfbeeld en ware vriendskap uit.
De Wet Hugo is ‘n laerskoolonderwyser en werk al vir meer as ‘n dekade by Britse Internasionale Skole in Asië - eers in Saoedi-Arabië en nou in China. Kleinmond is sy Suid-Afrikaanse tuiste.
Hy is die bekende skrywer van die Grilgrypers- en Kies-jou-avontuur-reekse, asook Katastrofe en Die doodgewone bure.
Die boek sal van 20 Mei in boekwinkels beskikbaar wees.