
Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - In baie Afrikaners se huise staan daar steeds ’n klavier, ’n koffiemeule, ’n Statebybel of selfs ’n stel silwerlepels wat al deur geslagte geërf is. Hierdie items het nie net finansiële waarde nie, dit dra die verhale van families, gemeenskappe en ’n hele kultuur. Tog hoor ’n mens deesdae dikwels dat ouers bekommerd is dat hul kinders nie die waarde van hierdie erfstukke besef nie en dit nie na behore sal bewaar nie.
Dit is juis in hierdie konteks dat die Erfenisstigting (ES) ’n belangrike rol speel. Die organisasie het ’n mandaat om Afrikanererfenis te bewaar - hetsy dit items, geboue of terreine is - in soverre dit finansieel moontlik is.
“Ons fokus is nie om net ’n geldwaarde aan iets te eien nie,” verduidelik Lizette Jansen, bedryfshoof van die ES. “Ons kyk na die geskiedkundige en erfeniswaarde, en help mense om die ware betekenis van hul erfstukke te verstaan.”
Wanneer iemand ’n item erf, soos byvoorbeeld ’n kompas of ’n ou dokument, is die eerste vraag dikwels: Wat is dit werd? Hier is dit belangrik om te onderskei tussen die geldwaarde en die erfeniswaarde van ’n item.
Daar is kundiges en geakkrediteerde waardeerders wat spesialiseer om die geldwaarde van oudhede amptelik te bepaal. Hulle kan ’n sertifikaat uitreik wat aandui hoeveel ’n item werd is.
Die ES kan jou help deur jou na sulke waardeerders te verwys.
Die erfeniswaarde is egter dít wat die item vir ’n gemeenskap of vir die nageslag beteken en kan nie in rand en sent gemeet word nie. Dis juis hier waar die ES se kundigheid onontbeerlik is.
Wanneer jy ’n erfstuk na die Erfenisstigting bring, word daar eers deeglik na die item gekyk en ’n paar vrae beantwoord:
- Hoe oud is dit, en aan watter tydperk kan dit gekoppel word?
- Hoe skaars is dit? Is daar baie sulke items in omloop?
- Hoeveel is oorspronklik gemaak, en hoeveel het tot vandag oorleef?
- Wat is die herkoms van die voorwerp? Het die item aan ’n besondere persoon behoort?
- Wat is die toestand daarvan, en hoe beïnvloed dit die waarde?
Op grond van hierdie faktore kan die Erfenisstigting jou nie net die geskiedkundige waarde gee nie, maar jou ook raad gee oor hoe dit die beste bewaar kan word.
As daar skade aan die erfstuk is, kan die ES bepaal hoe dit die waarde beïnvloed en of restourasie moontlik of raadsaam is.
Waarom erfenisbewaring belangrik is:
Die vraag kan met reg gestel word: Hoekom al hierdie moeite oor ’n paar ou voorwerpe?
“Die antwoord lê in die betekenis wat erfstukke vir identiteit en kultuur het,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
“Erfstukke verbind mense aan hul wortels. Dit vertel verhale van geloof, stryd, vreugde en oorlewing.
“Dit dien as tasbare herinneringe aan waar ons vandaan kom en as inspirasie vir waarheen ons op pad is.
“Ek dink tog dit is vir die gemiddelde persoon belangrik dat sy of haar kinders moet weet waar hulle erfstukke, of die oudhede waarmee hulle grootgeword het, vandaan kom,” sê Brand.
“Deur die bewaring van erfstukke ernstig op te neem, bou ons nie net ’n brug met die verlede nie; ons skep ’n skatkamer vir die toekoms, want wat vandag in ’n kas lê, kan môre die kernstuk van ’n museumuitstalling wees,” sê hy.
Die Erfenisstigting se oproep is duidelik: Moenie dat jou erfstukke verlore gaan nie. Vind uit wat dit werd is - nie net in rand en sent nie, maar in betekenis en erfenis.
Word ’n kurator van jóú familiegeskiedenis en bewaar ons kultuurskatte vir geslagte wat nog kom.
Indien jy erfstukke of oudhede het waarvan jy die waarde of geskiedenis wil weet, kan jy vir This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. (kurator) of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. (argivaris) by die Erfenisstigting kontak vir raad, of ‘n afspraak maak om items te skenk.
Voorbeelde van erfstukke:
“Baie mense dink aan groot en indrukwekkende voorwerpe wanneer hulle oor ‘oudhede’ praat, maar erfstukke kan klein en eenvoudig wees. Dit kan wissel van ’n Statebybel wat deur geslagte in een familie gebruik is, tot ’n koffiemeule wat aan ’n geliefde oupa behoort het,” sê Jansen.
Daar is ook voorbeelde van items wat op die oog af alle-daags lyk, maar ’n besondere geskiedenis dra. ’n Kommetjie wat tydens die Groot Trek se eeufeesvieringe in die 1930’s by die Uniewinkels verkoop is, is dalk nie baie geld werd nie, maar dra tog simboliese waarde as deel van ’n nasionale gedenkbewussyn.
“Soms verhoog die eienaarskap van ’n item sy waarde drasties,” sê Jansen. “’n Koffiemeule is ’n koffiemeule, maar as dit aan pres Paul Kruger behoort het, word dit ’n nasionale skat.”
Skenkings aan die Erfenisstigting
Nie almal wil hul erfstukke verkoop nie. Baie mense voel dat dit veiliger is om dit aan ’n betroubare instansie toe te vertrou wat dit vir die nageslag kan bewaar. Die Erfenisstigting neem met dankbaarheid skenkings van waardevolle items in ontvangs. Só word daar verseker dat hierdie stukke nie verlore gaan nie, maar deel bly van die groter Afrikaanse kultuurerfenis.
Hierdie skenkings maak dit ook vir die Erfenisstigting moontlik om uitstallings en projekte aan te bied waar die publiek die kans kry om die items te sien en iets oor die geskiedenis te leer.
Vir diegene wat hul erfstukke self wil oppas, bied die Erfenisstigting ’n Museum in elke huis-kursus aan wat enig in sy soort is.
“Die doel van dié kursus is om mense te leer hoe om hul eie versamelings te bestuur, te beskerm en selfs uit te stal,” verduidelik Jansen. “Die basiese beginsels van kuratorskap, berging, omgewingsbeheer, etikettering en registrering word behandel. Só kan elke huis ’n klein museum word, en elke gesin ’n kurator van sy eie erfenis.
“Ons wil hê mense moet trots wees op hul familie-erfenis, sê sy. “Dit is nie nodig dat ’n skat in ’n kas toegesluit bly of agter in ’n motorhuis stof vergader nie. Met die regte kennis kan jy jou erfstukke vertoon én bewaar.”