Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - As jy uitsien na ‘n boeredag waar die spiere gaan bult en die Boerboel-broekies styf span, is die Hervormde Kerk Doringkruin se Oesfees op 6 November net die plek om te wees.
Die Oesfees word by die NWK-terrein op die Ventersdorppad gehou met demonstrasies van plaasimplemente, produkuitstallings en ‘n sterkmankompetisie om die koring van die kaf te skei. Sterkmanne kan in ‘n groep van twee inskryf (R250 per span) en die span wat 25 40kg sakke voermol die vinnigste agter op ‘n Hilux kan laai, wen die 1 ton voermol of die kontantwaarde daarvan.
Al die aksie is van 10:00 tot 16:00 en fondse is ten bate van die kerk. Worsbroodjies en drinkgoed sal ook te koop wees.
Om 18:00 begin die manne-aand met die skerpsketser Pieter Moller as spreker. Dit word gehou in die saal by die NWK-terrein en kaartjies is te koop teen R500 per persoon of R5 000 per tafel (met tien mense). Dit sluit ‘n ete in. Kontant-kroeg is beskikbaar. Daar is ook ‘n veiling na die ete.
Belangstellendes kan vir Otto Bruwer skakel by 082 801 8794 of vir Hanrie van Staden by 083 463 2014. Dit is ‘n fondsinsameling vir die kerk.










