GEMSBOK-KURUMAN: Die Segonyana Mall sal in November 2025 in Kuruman, Noord-Kaap, oopmaak.
Die nuwe winkelsentrum word deur die Moolmam-groep ontwikkel en gaan ‘n veilige inkopie-ervaring na die hartjie van die bedrywige Kuruman bring.
Die winkelsentrum het amptelik op Maandag, 2 Desember grond gebreek, wat die aanvang van konstruksie merk.
Hierdie mylpaal volg op jare se beplanning en veelvuldige vertra-gings, wat die begin van ‘n opwindende nuwe hoofstuk vir die gemeenskap aandui.
“Die nuwe winkelsentrum sal in die groeiende behoeftes van inwoners voorsien met ‘n opwindende mengsel van diverse kleinhandelaars. Benewens die ankerhuurders Shoprite en Boxer, kan kopers uitsien na grootname handelsmerke soos Sheet Street, Home Choice, Total Sports en Sportscene,” het die Moolman Group gesê.
“Noodsaaklike diens-te soos Capitec Bank en Arrie Nel Apteek sal gerief vir almal verseker, terwyl gewilde modehandelsmerke soos Mr Price, Pep, Markhams en Choice Clothing styl nader aan die huis bring. Roots Butchery en Boxer Liquor is ingesluit in die reeks van 34 winkels.”
Ariëde Streek stap weg met vele pryse by Kudu-toekennings
18de SANParke Kudu-toekennings
GEMSBOK-UPINGTON: SANParke se Ariëde Streek het tydens die jaarlikse Kudu-toekennings wat op 28 November by die gesogte Gallagher Estate in Johannesburg aangebied is, weggestap met vele toekennings.
Bewustheid van bewaringskwessies is van kardinale belang en om ons nasionale parke beter te beskerm, moet ons saamwerk om oplossings te vind vir uitdagings soos stropery, klimaatsverandering en om die publiek op te voed en in te lig.
Die geleentheid het bewaringsswaargewigte saamgevoeg om diegene te vier wat die ekstra myl gestap het om ons land se biodiversiteit te beskerm en te bewaar.
ZFM skitter by SAPD Afdelings se Uitnemendheid Toekennings
Lede van Upington-grenspolisiëring in die ZF Mgcawu-distrik het onlangs met gesogte toekennings weggestap by die SAPD Afdeling Uitnemendheid Toekennings in Pretoria.
Kaptein B Gilbert is aangewys as Vrou van die Jaar en adjudant offisier AN Lesch as Man van die Jaar.
Hulle is ook as Beste Vispol-span van die Jaar aangewys.
Noord-Kaapse provinsiale kommissaris, luitenant-generaal Koliswa Otola het die lede gelukgewens met hul uitstaande prestasie en erkenning vir hul uitnemende diens en uitmuntende optrede.
Oud Uppie nou ‘n dokter
GEMSBOK-UPINGTON: Dr. Mason Adams het onlangs gegradueer aan die Universiteit van Kaapstad. Hy doen nou sy internskap in Oos-Londen.
Dr Mason is ‘n oud-leerder van Hoërskool Upington, hy is hier gebore en getoë. Mason is die jongste seun van Martin en Mary Adams.
Eerstens wil ek God dank, want Sy genade was vir my genoeg. Graag wil ek ook diegene bedank wat vir my gebid het. Ek waardeer elkeen wie 'n bydrae tot my studies gemaak het. Elke onderwyser, afrigter en skool, elkeen van my dosente, die breë gemeenskap van Upington wat grootliks bygedra het tot die persoon wat ek vandag is.
ORPA gee terugvoer tydens Algemene Jaarvergadering
GEMSBOK-KAKAMAS: Die Oranjerivier Produsente Alliansie (ORPA) het op 20 November 2024 hul jaarlikse algemene vergadering in Kakamas gehou.
Hierdie byeenkoms het ’n platform gebied vir terugvoer aan lede, aankondigings oor bestuursveranderinge, en die bespreking van ORPA se finansiële stand. Die dag is verder verryk deur ’n insiggewende toespraak van Johann Kotzé, die hoof uitvoerende beampte van Agri SA.
ORPA het die afgelope jaar se inisiatiewe en ondersteuning aan produsente bespreek, met spesifieke fokus op die verskaffing van kundigheid en hulpbronne aan lede. ’n Belangrike punt van bespreking was ORPA se finansiële gesondheid: Die alliansie bly toegewyd aan die verantwoordelike hantering van fondse om optimale ondersteuning aan produsente te bied.
Suid-Afrikaanse Weermag gevegsgereed verklaar
GEMSBOK-POSTMASBURG: By ‘n unieke byeenkoms van spesiaal geselekteerde belanghebbendes in die verdedigingsbedryf is die Suid-Afrikaanse Weermag gevegsgereed verklaar.
Skote, ontploffings en helikopter-klanke het onlangs oor die vlaktes van Lohathla weergalm, toe die Suid-Afrikaanse Weeermag sy staal op die bekende opleidingsbasis gewys het.
Die Suid-Afrikaanse Weermag se mandaat sentreer op die voorsiening van gevegsgereed magte en die leidende rol wat dit moet speel in die ontwikkeling van die Weermag-komponent van die landwaartse verdedigingsvermoë.
Die Vooraanstaande Besoekersdag sluit jaarliks die streng militêre oefening genaamd Vuk’uhlome af en dien as ‘n konvensie vir die militêre wêreld om ‘n gevegsgereedheidsdemonstrasie te aanskou.
Die ikoon van die Richtersveld
Koos Josob of soos hy bekend staan, Oom Koos, is voorwaar die ikoon van Richtersveld Nasionale Park.
Oom Koos het sy loopbaan in SANParke in 1993 as hekwag by Sendelingsdrift wat geleë is in |Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark. Hy is later daardie selfde jaar aangestel as veldwagter en het sy loopbaan in dieselfde Park waar hy begin het, in 2024 voltooi.
Hierdie ikoon het sy lewe lank in Richtersveld gebly en ook geboer baie lank voordat die Park geproklameer was in 1991. Sy liefde vir SANParke en om die natuur te bewaar vir die nageslag het net verder oor die jare gegroei en later was Oom Koos die gekose veldgids wanneer gaste meer oor die omgewing wou weet.
‘Kers-wonder-wens’ vir Keanan en kie
GEMSBOK-GROOTDRINK: ‘n Tragiese ongeluk op 11 Oktober 2024 het die lewens van Karin Otto en haar kinders onherroeplik verander.
Die ongeluk het Karin se man Cyril se lewe geëis en die oudste seun, Keanan (12) is baie ernstig beseer.
‘n Bewustelose Keanan is in die hopsitaal op Upington in die ICU opgeneem, met drie skedelbreuke, bloeding op die brein, asook inwendige bloeding en moes twee bloedoortappings ondergaan.
Die jong seun het ook ernstige beserings aan sy linkerhand, arm en voet opgedoen. Elke dag is ‘n uitdaging vir die gesin.
Die dapper seun se vordering oor die afgelope maand was een wonderwerkie op ‘n ander.
Van sy eerste reaksie op instruksies, tot hy selfs sy bene en arms begin optel het, was genade van Bo.
Nuwe leiers vir !Kheis verkies
GEMSBOK-GROBLERSHOOP: Na afloop van ‘n mosie van wantroue wat teen die voormalige burgemeester Rolf Christi op Maandag, 25 November 2024, ingedien is, is ‘n nuwe burgemeester, speaker en sweep van die raad vir !Kheis Plaaslike Munisipaliteit verkies.
Davy Jacobs is as die nuwe burgemeester van !Kheis Munisipaliteit verkies.
Volgens ‘n persverklaring het Jacobs ‘n rykdom ervaring van meer as 23 jaar in Plaaslike Regering, wat sedert 2001 in verskeie hoedanighede gedien het vanaf Betaalpunt Administrateur, Toesighouer: Waterdienste, Waarnemende Be- stuurder: Tegniese Dienste, Waarnemende Bestuurder: Korporatiewe Dienste, Projekbestuurder, Direkteur: Strategiese Dienste, Waarnemende Munisipale Bestuurder en raadslid sedert die 2021 Plaaslike Regeringsverkiesing.
Anisia Ludick is as die nuwe raadspeaker en Jessica Lodewyk as die sweep van die raad verkies.
Eerw Meyer tree uit, maar nie af
GEMSBOK-UPINGTON: ‘n Man wat in geestelike bediening werk, tree nooit af nie. Dit blyk nou ook die geval te wees met kapelaan H.O. Meyer, wat vir die afgelope 17 jaar adjunk-direkteur by Korrektiewe Dienste in die Upington-streek was.
Want, alhoewel hy verlede Vrydag as kapelaan by Korrektiewe Dienste afgetree het, gaan hy voort in die bediening.
Eerwaarde Meyer, soos mense hom noem, kom eintlik van Graaff-Reinet af, maar het Upington sy tuiste gemaak. Sy vrou, Helen, bedryf ‘n besigheid op Upington, so hulle gaan net hier bly, al verlang hy so na sy tuisdorp.
Raisins SA verwelkom Wessel Lemmer as nuwe Hoof Uitvoerende Beampte
GEMSBOK-UPINGTON: Raisins SA verwelkom Wessel Lemmer as nuwe hoof uitvoerende beampte, wat op 6 Januarie 2025 sy amp sal aanvaar.
Raisins SA erken die sukses van hul span onder leiding van ons uittredende uitvoerende hoof, dr Ferdie Botha, wat die afgelope sewe jaar ‘n uitstekende strategiese rol gespeel het in die groei van Raisins SA se kapasiteit en handelsmerkbewustheid.
‘’Dr Botha laat ons met ‘n wonderlike span hier by Raisins SA. Ek sien daarna uit om voort te bou op sy nalatenskap, terwyl ons voortgaan om die rosyntjiebedryf te ontwikkel, nie net vir die produsente en verpakkers, maar ook in die belang van alle sleutelbelanghebbendes. Ons het almal ‘n belang in die sukses van ‘n volhoubare en winsgewende rosyntjiebedryf. Ons onmiddellike prioriteite is om die vraag na ‘n uitstekende gehalte produk te bevorder, om nasionale rosyntjieproduksie te verhoog, veral per hektaar produksie, en om vertroue in ‘n regverdige en veilige mark aan te moedig.” – Wessel Lemmer
Wessel, ‘n gesoute landbou-ekonoom, se ervaring in landbou strek oor meer as 30 jaar sedert die begin van sy M.Sc.Agric graadstudie aan die Universiteit van die Vrystaat in 1993. Hy het sy loopbaan begin deur n studie van die finansiële lewensvatbaarheid van produsente in die Laer-Oranjeriviergebied te doen t.o.v. vloede van verskillende omvang. Hy is terug in Upington, om die sirkel te voltooi, om die Suid-Afrikaanse rosyntjiewaardeketting te dien.
Kakamas SAPD beste in ZFM-distrik
GEMSBOK-KAKAMAS: SAPD Kakamas is onlangs tydens ‘n spoggeleentheid, deur die ZFM distrik aangewys as die beste stasie in die distrik vir die 2023/2024 finansiële jaar.
Brigadier Peet Coetzee, waarnemende distrik kommissaris het die stasiebevelvoerder, kolonel Dries Witbooi, asook sy personeel gelukgewens met hulle welverdiende prestasie.
Ander presteerders wat aangewys is , was, kaptein Elsabe Vass, as administrasie beampte van die jaar, die menslike hulpbronne kantoor in 2de plek vir administrasie kantoor van die jaar, die sosiale misdaad span as 2de plek vir sigbare polisiëringspan en die taakspan as 2 de plek vir operasionele span van die jaar.
Kolonel Witbooi het dan ook die personeel van sy stasie geprys met die harde werk wat hulle gelewer het.
Die gemeenskap van Kakamas word ook verseker van professionele dienslewering.








